Leerders van die skool word vanuit Riversdal met busse aangery om die nuwe toutrek-wêreldkampioenne terug te verwelkom.
Skaars 'n week gelede is die Oakdalers hier weg, om in Appenzell in Switserland hul toutrektegnieke teen die topspanne van 27 lande in die 560kg-gewigsafdeling te toets. Hul paspoort na die wêreldkampioenskappe is vroeër vanjaar op Malmesbury bekom, toe Oakdale die SA-kampioenskappe gewen het. Só maklik, dat hul B-span, met enkele graad 9's in sy geledere, ook gekwalifiseer het en saam is Switserland toe.
En nou is hulle terug as wêreldkampioene!
Oakdale het Duitsland in die finaal geklop, nadat die Suid-Afrikaners al hul teenstanders in die uitdunne se neuse behoorlik in die grond getrek het. Die span het nie 'n enkele trek afgestaan nie en die tipe veggees geopenbaar wat ons nasionale rugbyspan nou kortkom om nog enigsins 'n sê te hê in die rugbykampioenskap teen Australië, Nieu-Seeland en Argentinië.
En dis geen gelukskoot nie. Oakdale het dié prestasie reeds twee keer vantevore vermag: in 2005 in Italië en weer in 2008 in Swede. Dis duidelik: die Suid-Afrikaners verkies 'n oorsese jagveld.
Oakdale se skoolhoof, mnr Andre Latsky, straal met rede. "Dis 'n jong klomp dié, maar hulle het Oakdale en Suid-Afrika trots gemaak. Dis hul ongelooflike harde werk, selfdissipline en toewyding nadat hulle die SA-span gehaal het, wat hulle die topprys as die wêreld se beste toutrekspan in die 560 kg-afdeling besorg het."
Latsky sê die toutrekkers moes baie opoffer, onder andere, rugby en ook ander sportsoorte vaarwel roep om die gevaar van beserings hok te slaan.
"Dis opoffering! Hulle het nooit getwyfel in hul vermoëns nie en geglo die titel is hulle s'n. En moenie die twee afrigters, Piet Lourens en Riaan Stander, se rol in hul sukses geringskat nie."
Al 27 spanne het vóór die wêreldkampioenskappe aan 'n ope-toernooi deelgeneem. Oakdale se B-span het vir 'n taamlike 'opskudding' gesorg deur hul A-span in die finaal van dié ope te klop. Maar Oakdale se 'eerstes' het darem die bordjies verhang om die wêreldtitel in te katrol.
Nou vir 'n tikkie slegte nuus: Oakdale se span kan aanstaande jaar nog beter wees, sê mnr Latsky. Van die twintigstuks wat Switserland toe is, maak net vyf vanjaar klaar met matriek. Die res - drie graad 9's, elf graad 11's en een graad 9 - slyp reeds hul tande. "Hul hande is reeds so rof soos raspers," sê hy.
Twee van Oakdale se toutrekkers is ook pas in die Proteas se o.23-span opgeneem. Hulle is Hennie Vermaak en Dirk Hopkins, wat albei tans albei matriek skryf.

Die Oakdale-bulspan warm op kort voor die eindstryd waarin hulle die wêreldkroon losgetrek het.