TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Tydens die Eden Pluimbalfede-rasie se algemene jaarvergadering op Maandag, 25 Oktober in George gehou, is nie minder nie as drie van Stilbaai-pluimbalklub se lede verkies om op die komitee van 2022 te dien.
Lede van Stilbaai-, Oudtshoorn-, George- en Mosselbaaiklubs was teenwoordig.
Stilbaaiers Koos Ellis beklee die amp van ontwikkelingsbeampte vir die streek, Johan van Huyssteen as spelersverteenwoordiger en Ursula van Huyssteen neem die leisels op as die van vroue in sport verteenwoordiger.
Stilbaai-pluimbalklub word in die streek as een van die sterker klubs gesien. Hulle is een van min klubs se lidmaatskap wat gedurende die moeilike Covid-tyd gegroei het. Seniors beoefen elke Maandag- en Woensdagaand hulle sport in die kusdorp.
Die klub het ook in 2021 'n junior klub gestig. 12 junior spelers het geleer hoe om die pluim met grasie en vernuf oor die net te slaan.
Tans is dit slegs moontlik vir die juniors om Maandagmiddae te oefen.
Die komiteelede is opgewonde om die sport in ons streek uit te brei en het groot planne vir 2022.
Vir meer inligting of speelgeleentheid, skakel vir Koos Ellis (082 922 9123) of Ursula van Huyssteen (084 503 8481).
Eden-pluimbal se nuwe bestuur (agter, van links): Ali Akram (addisionele lid), Nadia Luddick (kommunikasie), Janine Kotze (tegniese beampte, DCO), Hanlie Alberts (voorsitter), Koos Ellis (ontwikkeling) en Johan van Huyssteen (spelersverteenwoordiger). Voor: Amanda Minnie (addisionele lid), Marius van Huyssteen (tesourier), Heleen Fourie (sekretaris), Attie Henning (ondervoorsitter) en Ursula van Huyssteen (vroue in sport).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'