Update
EDEN DISTRIK NUUS - Vanjaar is Oudtshoorn-munisipaliteit gasheer van die prestige Eden-sportraad toekennings wat Vrydagaand 27 Julie plaasvind.
Eden-sportraad, die departement van kultuursake en sport (DKES) is die ander ankervennote vir die geleentheid.
Die organiseerders het daarin geslaag om Ashwin Willemse, oud-Springbok-rugbyspeler en SuperSport-aanbieder as gasspreker te bekom. EDENfm gaan die verrigtinge direk uitsaai sodat die hele distrik deel kan wees van dié grootste sportgeleentheid.
Die amptelike sluitingsdatum was reeds 22 Junie en 'n getal van 191 nominasies van hoogstaande gehalte is vir die 31 kategorieë van 30 federasies ontvang.
In sommige kategorieë is meer as 10 nominasies, waarvan die meeste al Suid-Afrika verteenwoordig het, ontvang wat dit beslis nie maklik gaan maak vir die beoordelingspaneel nie.
Toppresteerders wat genomineer is, sluit name soos Jovan Rebula (gholf: pas die Britse Amateurtitel gewen), Trevor Davis (rolbal: World Bowls Law Committee, skeidsregter by Commonwealth, Australië), Meike Strydom (junior atletiekster), Elma Davis (rolbal: silwermedalje Commonwealth Game, Australië), Claudio Miller (lewensredding: spanbestuurder SA Junior span, Australië), Janine Kotze (pluimbal: skeidsregter Australië Ope), Michelle Groves (netbal: SA Skolespan na Australië) en Jean du Plessis (krieket: SA o.19-span na Junior Wêreldbeker).
Sportprestasies tussen 1 September 2017 en 22 Junie 2018 word in ag geneem. Die wenners van die kategorieë wat in ooreenstemming is met die van Wes-Kaap, word outomaties finaliste vir die Wes-Kaap-sporttoekennings wat op 25 Augustus plaasvind. Alle Eden-sportfederasies, munisipale sportrade en Eden-skole is uitgenooi om hulle top- sportpersone, afrigters en administrateurs te nomineer.
Lees 'n vorige artikel: Distrik se sportsterre eersdaags op podium
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'