Gallery Update
STILBAAI SPORTNUUS - Om op 85-jarige ouderdom nog elke dag fluks te oefen en boonop sy gimnasium eiehandig te bedryf, wil gedoen wees.
Professor Hannes Botha van Stilbaai het reeds op 'n baie jong ouderdom 'n aanvoeling vir atletiek getoon.
Hy is in 1936 op Sterkstroom in die Oos-Kaap gebore. Sy pa is oorlede toe hy agt jaar oud was en ses jaar later is sy ma weer getroud. Hulle het na Bethlehem verhuis en was hy in Hoërskool Voortrekker, waar hy matrikuleer het.
In graad 11 (destyds standerd 9) het hy die Vrystaatspan in spiesgooi, skyfwerp en gewigstoot gehaal en nooit weer teruggekyk nie. Na skool is hy na Pretoria waar hy as onderwyser gekwalifiseer het. Dit is ook daar waar hy sy elmboog sodanig met spiesgooi beseer het, dat hy hom net op gewigstoot en skyfwerp toegespits het.
In 1952 en 1953 was Botha by die SA junior kampioenskappe en in 1957 het hy die senior gewigstoters begin klop. Van 1958 tot 1967 was hy senior SA kampioen vir gewigstoot, met die uitsondering van 1962.
Fotogalery: Prof Hannes Botha: 'n Lewe gewy aan sport
Dié jaar het die destydse regering hom vir sewe maande na die VSA gestuur om by wêreldbekende afrigters meer rondom atletiekafrigting te leer. Hy het egter in 1962 die eerste atleet in Afrika geword wat die gewig verder as 60 voet kon stoot. Sy afstand was in vandag se terme 18,47 meter.
Die ewige student het ook in daardie jaar sy meestersgraad by Tukkies verwerf. Dit is met 'n doktorsgraad in 1968 opgevolg, ook by Tukkies. Sy verhandeling was 'n ondersoek na die funksie van 'n staatsdepartement van sport en rekreasie in Suid-Afrika.
Botha het 'n hele paar boeke die lig laat sien, waarvan die eerste een Atleet en Afrigter was. Gert Potgieter, ook 'n bekende Springbok atleet het hom hiermee bygestaan.
Hoewel hy slegs 33 jaar oud was toe hy besluit het om as atleet uit te tree, het hy sport nooit vaarwel toegeroep nie. Hy het Suid-Afrika in gewigstoot en skyfwerp van 1958 tot 1966 verteenwoordig en was Springbok-atletiekkaptein in 1966. Hy was die SA kampioen en rekordhouer in gewigstoot van 1958 tot 1967 en dan ook die bestuurder van die Springbok-atletiekspan na Duitsland in 1968.
Professor Hannes Botha het Suid-Afrika onder meer ook in 1965 in Buenos Aires met gewigstoot verteenwoordig.
Komitees
Botha was stigter/organiseerder van die Suid-Afrikaanse vereniging van atletiekafrigters; president van die Suid-Afrikaanse amateuratletiekunie; leier van SA atletiek afvaardigings na kongresse van die internasionale amateuratletiek-federasie in München 1972, Rome 1974 en Montreal 1976.
Hy was uitvoerende bestuurslid van die SA sportfederasie en uitvoerende bestuurslid van die SA Olimpiese en nasionale Spelevereniging; president van die SA federasie vir beweging en vryetydwetenskappe en 'n lid van die keurkomitee van die National Olympic Committee of South Africa, om slegs 'n paar te noem.
By dit alles moes Hannes nog sy brood verdien en was onder andere professor/hoof van die departement menslike bewegingskunde by Tukkies van 1973 tot 1987 en direkteur, instituut vir sportnavorsing van 1979 tot 1996, ook by die Universiteit van Pretoria.
In daardie tyd is prostaatkanker by hom gediagnoseer en op 60-jarige ouderdom het hy besluit om uit te tree. Die volgende logiese stap vir hom en sy vrou, Annatjie, was om Stilbaai, waar hulle strandhuis was, hulle permanente aftreedorp te maak.
Botha het in 'n stadium gimnasiumopleiding as vak aangebied en toe hy tuis nie meer kon stilsit nie, het hy met 'n gimnasium by sy huis begin. Dit het begin met Toni Lourens en die stadsklerk van daardie tyd en het tot 60 lede gegroei.
Die oudste lid, Mossie Mostert, word September 90 en hy is elke oggend stiptelik om agtuur daar om deur sy oefenprogram te werk.
Annatjie het Botha vier jaar gelede ontval, maar hulle het twee dogters wat gelukkig beide in die Wes-Kaap woon.
Vorige artikel: 'n Gesonde gees huisves 'n gesonde liggaam
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'