HESSEQUA SPORTNUUS - Verskeie sportkodes is besig om op vlak 1 van inperking te herleef. So word die lugruim bo Stilbaai en Jongensfontein weekliks met uniek selfgeboude modelvliegtuigies verfraai.
Die Blombos Bush-pilots Club (BBC), 'n vliegklub en -fasiliteit vir vliegtuigmodelle wat sedert 2018 in Stilbaai funksioneer en by die Suid-Afrikaanse Modelvliegtuig-assiosiasie geregistreer is, kom op 'n gereelde basis bymekaar om met hul vliegtuigies te spog en die sport te geniet.
Die klub is op die plaas Ostende, 5km vanaf die afdraai naby Jongensfontein op die Blombos-pad geleë. Met 'n 90m gras aanloopbaan, parkeerarea vir die vliegtuigies en mini-stoorplekke, geniet die modelvliegtuigentoesiaste die sport asof hulle ware vlieëniers is.
"Die vliegveld is oorspronklik ontwerp om 'n grasveld te wees vir die vlieg van modelvliegtuie met 'n vlerkspan van 1,2 tot 2m en aangedryf deur geskikte binnebrandenjins of elektriese motors en die gebruik van radiobeheerstelsels," vertel Etienne Venter, klubvoorsitter.
Venter sê BBC het 21 vlieëniers wat afkomstig is van die plaaslike Stilbaai-gebied, die Suid-Kaap en van ander gebiede in Suid-Afrika terwyl hulle in Stilbaai vakansie hou.
Die vliegtuie wat by BBC gevlieg word, wissel van skaalmodelle tot selfgeboude vliegtuie waar die vlieëniers vliegtuie bou om in hul persoonlike behoeftes te voldoen.
Modelvliegtuig vlieëniers spog met hul vliegtuigies.
Daar word heerlik ontspan terwyl die modelvliegtuig vlieëniers hul slag wys.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'