STILBAAI NUUS - Die legendariese Comrades-atleet, Bruce Fordyce (66), het dié kusdorp die afgelope naweek besoek op uitnodiging van Nico Steenekamp en Stilbaai-parkrun.
Bruce was Vrydagaand, 27 Mei, by die plaaslike rolbalklub om sy boek, Winged Messenger aan Stilbaaiers bekend te stel. Nie eers die beurtkrag kon die geesdrif van die vol klubhuis demp nie.
Hy moes reeds van laatmiddag af bontstaan om boeke te teken en daar is fluks foto's saam met hom geneem.
Bruce het sy praatjie afgeskop deur te sê dat as jy nie kan hardloop nie, moet jy jou ouers blameer omdat dit geneties is.
"Die wonderlike geskenk van die Comrades is dat dit jou ontsettend baie van jouself leer. Jy is 'n ander mens na jou eerste Comrades," het hy gesê.
Volgens hom het hy die boek geskryf as 'n gids vir atlete wat vir die eerste keer aan 'n Comrades deelneem. Hy het twee jaar aan die eerste 500 woorde geskryf, maar met die streng inperking van Covid-19 kon hy dit binne vyf weke voltooi. Tot op hede is al meer as 6 000 boeke verkoop.
Bruce het aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer en gekwalifiseer as 'n argeoloog.
Hy het die Comrades nege keer gewen. Hy het sy eerste Comrades in 1977 gehardloop, waar hy 43ste klaargemaak het. Vanaf 1981 het hy agt keer agtereenvolgens gewen tot in 1988 en toe weer in 1990. Hy het die Comrades reeds 30 keer voltooi.
Tydens sy praatjie het hy baie staaltjies vertel en een wat die aanwesiges laat skaterlag het, was toe hy die koningin van Brittanje ontmoet het. Hy was een van 500 gaste wat na 'n funksie uitgenooi is toe sy Suid-Afrika besoek het.
Terwyl hulle in hierdie reusevertrek staan en sy in 'n afgemerkte paadjie deur die mense stap, het sy hom opgemerk en by hom gestop. Hy reken dit was miskien net omdat hulle ewe kort en klein is.
Sy vra hom toe uit en toe sy uitvind dat hy marathons hardloop, was haar verbasing groot dat hy nie groot en sterk is nie. Sy antwoord was dat 'n goeie marathonatleet sterk bene, sterk longe en geen breinselle moet hê nie.
Bruce, die vader van Parkrun SA het Saterdagoggend die koue en mistige weer trotseer om ten spyte van 'n gebreekte fibula (die been langs jou skeenbeen), saam met 'n groot aantal geesdriftige drawwers en stappers te stap.
Bruce saam met Nick Steenekamp in blou aan sy linkerkant en ander vrywilligers by die parkrun. Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'