STILBAAI NUUS - Stilbaai-gemeenskapsaal was Saterdag, 19 Februarie gevul met 20 energieke juniors wat die geleentheid aangegryp het om meer van pluimbal te leer.
Mike Noone van Pluimbal Suid-Afrika is genooi om die Wêreld Pluimbalvereniging se Shuttle Time-program aan die Eden Pluimbalfederasie aan te bied.
Sestien afrigters van Stilbaai, Oudtshoorn en Mosselbaai is aan die program bekendgestel. Hulle is hiertydens die geleentheid gegun om te leer hoe om die beskikbare hulpbronne te gebruik om lesse vir leerders tussen die ouderdom van vyf en 15 aan te bied.
Die Shuttle Time-program is in 2012 geloods om pluimbal wêreldwyd te bevorder. Hulle mikpunt is om dit die mees populêre sport in skole te maak.
Omdat pluimbal deur seuns en meisies binnenshuis gespeel word, is dit die perfekte sport om in skole aan te bied.
Tydens die interaksie, leer kinders sosiale vaardighede aan. Die manier hoe die rakkette en pluime gebruik word, bevorder hand-oog-koördinasie. Wanneer die leerders begin om potte te speel, is strategiese denke en spanwerk twee vaardighede wat beoefen word. Leerders se fiksheid verhoog en boonop is dit groot pret.
Pluimbal Suid-Afrika is gretig om die program, wat hulpbronne, opleiding en toerusting gratis aan skole en klubs bied, aan soveel instansies as moontlik bekend te stel. Daar sal later in die jaar weer 'n geleentheid deur die Eden Pluimbalfederasie aangebied word.
Vir meer inligting kontak die Eden Pluimbalfederasie se ontwikkelingsbeampte, Kobus Ellis (082 922 9123).
Stilbaai-pluimbalklub is tans besig om 24 juniors deur die 22 weke Shuttle Time-program op te lei sodat hulle volwaardige junior pluimbalspelers kan word.
Junior klubspelers oefen twee keer 'n week en sal hierdie jaar ook geleentheid gebied word om teen ander dorpe te gaan speel.
Stilbaai Shuttle Time-tye
- Seniors: Maandae en Woensdae - 16:00 tot 16:45.
- Juniors: Maandae en Woensdae - 16:45 tot 17:30
"Tans laat die 22 les-program ons toe om elke ses maande 'n nuwe stel leerders tussen die ouderdom van vyf en 15 jaar te kan oplei," sê Ursula van Huyssteen van die klub..
Vir meer inligting oor Stilbaai-pluimbalklub se tye en junior program, kontak Van Huyssteen (084 503 8481).
Die geleentheid was goed deur die juniors ondersteun.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'