TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Kobus Boshoff was 'n uitstaande jukskeispeler.
Hy het onder andere sy Springbokkleure, asook SA-meesterskleure verwerf. Daarbenewens het hy voor gevat op administratiewe terrein in die destydse Suidwestelike Distrikte, deesdae Eden-jukskeidistrik.
Hy was voorsitter van die SWD-jukskeibestuur, begaafde speler en goeie vriend wat deurgaans vrede en samewerking nagestreef het.
Hy is op die ouderdom van 70 jaar oorlede in Januarie 2014 na 'n lang siekbed. Almal wat hom geken het eer sy toewyding aan jukskei en daarom word 'n Kobus Boshoff-toernooi jaarliks van stapel gestuur.
Verlede Saterdag het begeesterde spelers van Stilbaai, Albertinia, Riversdal en uiteraard van Hartenbos op die Hartenbos-jukskeiterrein saamgetrek om nogmaals eer aan Kobus te bewys.
Sonskyn en windstilte het goeie jukskei tot gevolg gehad. Spelers het mekaar opdraand gegee en skofte is nie sonder 'n geveg om punte aangeteken nie.
Goeie houe, waaronder dwarsskeie reguit lê's, rollers en semidwars is uitgestal. Dit was 'n geveg "ten bloede" waartydens geen genade gevra of gegee is nie.
Die kompetisie is in die driespel formaat aangebied.
In die A-afdeling was die uitslae op 'n mespunt gebalanseer, soveel so dat Hartenbos en Riversdal beide in die eerste plek met 58 punte elk geëindig het.
Die B-afdeling (hierdie span het ook in die A-afdeling deelgeneem) is gewen deur Hartenbos, wat bestaan het uit Johan Jordaan, Koot Swart en Buks Scholtz.
Dit dien vermeld te word dat Johan Jordaan 'n kleinseun van oupa Kobus Boshoff is.
In die C-afdeling, waar ses spanne kragte gemeet het, was die wedywering eweneens straf. Hartenbos se Elias Burger, Malie Pienaar en Chris Viljoen het die knoop deurgehaak en in die eerste plek geëindig, met Albertinia bestaande uit Henry Gerber, James van Tonder en Hans de Bruin, in die tweede plek.
Aan die einde van die dag se spel is as beloning aan elke speler 'n aandenking oorhandig. Dit was 'n duidelike blyk van waardering vir deelname en prestasie.
Uitslae:
A-afdeling:
Riversdal (58); Hartenbos A2 (58); Hartenbos A1 (36½).
B-afdeling: het wel deelgeneem in die A-afdeling en het verdien om in die B-afdeling eerste geplaas te word met 'n puntetotaal van (27½).
C-afdeling:
Hartenbos (56); Albertinia (50½); Riversdal C1 (39); Stilbaai C1 (33); Stilbaai C2 (29); Riversdal C2 (17½) .
Tydens 'n gesellige verkeer na die dag se veeleisende spel is daar heerlik gerus terwyl die belonings oorhandig is.
Môre, Saterdag 13 November, word die Mich van Heerden-opejukskeidag op Stilbaai aangebied.
Die opening vind om 08:00 plaas. Alle klubs word hartlik uitgenooi. Daar sal sekerlik gesogte pryse op die spel wees volgens die organiseerders.
Die Hartenbos A2-span: Johan Brummer, Elna van den Berg en Sydney Stopforth.
Die C-afdeling wenners is Elias Burger, Malie Pienaar en Chris Viljoen (Hartenbos).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'