STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Surf Club het Vrydag, 1 Mei, 'n geslaagde pretdag by Steentjie aangebied om kinders bekend te stel aan die wonderwêreld van branderplankry.
Die belangstelling was só groot dat 'n afsnypunt van 34 kinders, tussen die ouderdomme van vyf en 16 jaar, ingestel moes word.
Die konsep was eenvoudig maar doeltreffend: elke kind is aan 'n ervare branderplankryer van die klub gekoppel vir 'n sessie in die branders, waar hulle die basiese tegnieke, etiket en nuttige wenke oor die sport kon aanleer.
Die deelnemers is in drie groepe verdeel, met elke groep wat ongeveer 'n uur in die water deurgebring het. Vooraf is daar ook opleiding op die strand aangebied om die jong branderplankryers voor te berei.
Die kinders se entoesiasme was aansteeklik en baie van hulle wou skaars uit die water kom toe hulle sessies verby was.
Te oordeel aan die groot belangstelling lyk dit of die klub binnekort verder sal moet uitbrei om aan die groeiende vraag te voldoen. Verskeie ouers het ook belangstelling getoon in 'n soortgelyke inisiatief vir volwassenes, wat die klub tans oorweeg.
Na afloop van die dag het deelnemers en hul families by Morrispunt bymekaargekom vir 'n gesellige bring-en-braai, waar daar lekker gekuier en stories gedeel is.
Belangstellendes wat meer wil weet oor toekomstige inisiatiewe kan vir Rut Gouws kontak by 082 065 9530.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’