Gallery Update
RIVERSDAL NUUS - Vyf ovaalbaanrenjaers van Stilbaai en Riversdal is oppad na 'n SWD-kampioenskap ovaalbaankompetisie in Oudtshoorn, waar hulle Hessequa-renjaers se staal moet gaan wys.
Die wedren sal Saterdag, 26 September plaasvind.
Die kompetisie sal sorg vir groot geraas, maar slegs vanuit die enjinkap van die motors, omdat die paviljoene leeg sal wees met geen toeskouers wat nog op vlak 1 van inperking by sportgeleenthede toegelaat word nie.
Dirk van der Westhuizen, voorsitter van die Eden-sportraad se motorren-afdeling het gesê die renjaers is besig om punte te verwerf om aan die einde van die jaar as SWD se kampioenrenjaer gekroon te word.
Volgens Van der Westhuizen het 70 renjaers van sover as Oos-Londen, Port-Elizabeth, Kaapstad en Worcester vir deelname geregistreer.
Vanuit Hessequa sal die Stilbaai gebaseerde Visagie-familie van SKP Boukontrakteurs hulle slag op die baan wys. Riversdal se Clarizka en Johannes Havenga het ook ingeskryf.
Fotogalery: Hessequa ovaalbaan renjaers
Eugene Visagie gaan sorg vir groot geraas met sy agt-silinder aangedrewe renmotor, waar hy in die W17-klas gaan deelneem. Sy vrou Ena gaan in die W11-beginnersklas ry, terwyl hul seun, Ehrard in die W10-beginnersklas sy bestuursvernuf as renjaer ten toon gaan stel. Riversdal se Clarizka en Johannes Havenga is ook reg om Hessequa se sportnaam hoog te hou.
Clarizka gaan in die W713 1660-klas deelneem. Johannes sal in die W30 2.1-klas sy slag wys.
Eugene borg al vyf die renjaers.
Vorige artikel: Hessequa-renjaers gerat vir ovaalbaan
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'