Gallery
HESSEQUA NUUS - Na die afwesigheid van twee jaar het die jaarlikse interskole kragmeting tussen die twee landbouskole, Oakdale en Boland, die afgelope naweek by Boland Landbouskool plaasgevind.
Groot getalle toeskouers het in die goeie gees en atmosfeer gedeel wat op Boland geheers het. Die skoolgees en trots van leerders van beide skole was duidelik sigbaar tydens hul optrede op die pawiljoen en die intensiteit van hul spel.
Die kragmeting het reeds Vrydagoggend op die Wellington-gholfbaan afgeskop tydens die 18-putjie gholfstryd. Oakdale het vanjaar geseëvier met die volgende uitslae: Gholf A-span wen 4 - 2, die B- span verloor 2 - 5 teenoor 3 - 5 en die C-span behaal ‘n oorwinning van 4.5 teenoor 1.5.
Op die fietsbaan het die bulle hulle net so goed van hul taak gekwyt en wen hulle met ‘n telling van 48 -1 8.
Die Bulle se junior rugbyspanne het die grondslag vir die dag se sukses gelê met goeie oorwinnings. Uit die 17 wedstryde wat Saterdag gespeel is, het Oakdale totaal van agt gewen.
Dit was egter die o.19A-span se wedstryd wat bepalend sou wees vir Oakdalers om hul tradisionele “bulring” te kon maak. Afgesien van duisende toeskouers op die paviljoen en om die veld, kon die hele Suid-Afrika dit ook op televisie dophou. Die oortuigende wen van 26 punte teenoor Boland se 17 het die dag op ‘n hoogtepunt afgesluit.
Die blou see van Oakdale-baadjies het binne enkele sekondes die A-veld oortrek en die kreet is op uitbundige tradisionele Oakdale-styl deur die leerders, ouers en oudskoliere gedoen. Trane van blydskap was aan die orde van die dag.
Hoër Landbouskool Oakdale bedank die gemeenskap van Riversdal en omgewing vir lojale ondersteuning tydens die Interskole.
Rugby uitslae:
Oorwinnings: 14B 19 - 3; 14D 15 - 14; 15B 7 - 0; 15C 7 - 0; 16B 21 - 8; 16C 21 - 3; 19E 3 - 0; 19A 26 - 17.
Gelykop: 14C 12 - 12.
Nederlae: 14A 10 - 16; 15A 0 - 14; 15D 7 - 8; 16A 10 - 15; 19F 7 - 10; 19D 5 - 17; 19C 25 - 7; 19B 10 - 15.
Oakdale puntemakers (19A's):
Drieë: Keagan Coerecius (15), André Goedhals (4) en Marcel Strydom (9). Kobus Janse van Rensburg (12) met 3 strafskoppe en 1 doelskop.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'