RIVERSDAL NUUS - Die jaar se grootste en ook belangrikste jukskeitoernooi in Hessequa breek Saterdag (26 Oktober) aan wanneer die jaarlikse interdistrikte-toernooi weer in Riversdal aangebied word.
Die organiseerders verwag 80 jukskeispelers uit vier provinsies. Die Kaapse Wynlande (ou Westelike Provinsie), Boland, Eden en Overberg sal weer in aksie wees.
Eden se mans het die A-afdeling verlede jaar gewen en ook in die D-afdeling geseëvier.
Ruan Albertyn, voorsitter van Eden Jukskei, het aan Suid-Kaap Forum gesê die spanne wat aan die interdistrikte-toernooi gaan deelneem is hoogs mededingend en hy verwag 'n naelbytstryd in al vier afdelings.
"Die manne en vroue wat in aksie gaan wees is nie hier vir 'n sosiale kragmeting nie. Allermins."
Hy sê dat Eden Jukskei tans 'n oplewing beleef en dat die sport se ledetal besig is om gesond te groei.
Eden het tans agt klubs wat op 'n gereelde basis aan kompetisies deelneem. "Ons het to dusver die seisoen reeds verskeie ligas en ope dae aangebied.
Dié interdistrikte-toernooi is nogal gewild by die jukskeiers, veral vanuit die Wes-Kaap en daarom word dié toernooi so goed ondersteun.
Riversdallers kan gerus die jukskeispelers kom ondersteun en hulself vergewis van hoe opwindend die spel wel is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’