STILBAAI NUUS - Stilbaai-hengelklub se jaarlikse Galjoen-derby het Saterdag 8 Augustus in tipiese winterweer plaasgevind, met sowat 340 hengelaars van oraloor wat die stryd teen die see en die gesogte galjoen aangepak het.
Dit was vanjaar die 32ste keer dat die gewilde toernooi aangebied is. Van vroegoggend af was hengelaars - mans en vroue - langs die water, met sommige wat ver gestap het om hul gunsteling-lynnatmaakplekkies te bereik.
Ten spyte van die groot geesdrif het nie almal met 'n vangs huis toe gegaan nie. Geheime resepte, beproefde resepte en selfs nuwe resepte is ingespan om die galjoene aan die byt te kry, maar soos enige ervare hengelaar weet: as 'n galjoen nie wil byt nie, gaan niks hom sommer dwing nie.
'n Hengelaar is egter 'n ander spesie en gee nie maklik moed op nie. Vir baie deelnemers gaan die derby immers oor veel meer as net die vis wat aan die einde van die dag in die sak beland.
Die lekker samesyn langs die viswater, sportmangees en die geleentheid om vir 'n rukkie weg te breek en te reflekteer, is deel van wat die jaarlikse kompetisie so besonders maak.
En met die bekende hengelaarsingesteldheid van "Volgende jaar probeer ons maar weer" bly die Galjoen-derby 'n gebeurtenis waarna hengelaars elke jaar uitsien.
Die dag is afgesluit met 'n heerlike prysuitdeling in die Stilbaai-gemeenskapsaal, waar die wenners vereer is en heelwat interessante vissermanstories die ronde gedoen het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’