SUID-KAAP NUUS - Bekende sportlui, waaronder Elma Davids (rolbal), Meike Strydom (atletiek), Christo Lamprecht (gholf), Gustav Schlechter (tweekamp), Susan Agrella (skerm) en Georgiou Divaris (seiljagvaart), is onder die finaliste vir vanjaar se Eden-sporttoekennings.
Die wenners word vanaand op Riversdal tydens 'n geleentheid in die burgersentrum aangewys.
Die wenners van sommige kategorieë sal na die Wes-Kaapse sporttoekennings deurdring.
Altesame 160 nominasies is vanjaar vir die Eden-toekennings ontvang.
Die Hessequa-munisipaliteit is vanjaar gasheer. Die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport (DKES) en die Eden-distrikmunisipaliteit is saam met die Eden-sportraad die ankervennote vir dié toekennings.
Davids, 'n befaamde Protea-rolbalspeler, en Divaris is onderskeidelik genomineer as sportvrou en -man van die jaar.
Strydom, wat Suid-Afrika onlangs by die Afrika-spele in gewigstoot verteenwoordig het, is as junior en hoërskole sportvrou van die jaar genomineer. Lamprecht en Schlechter gaan saam met GW Lund om die hoërskole sportman van die jaar-titel meeding.
Van die ander finaliste is Nicola Putter (laerskole sportvrou), die judoka Lilian Steyn (afrigter van die jaar), die atleet Antonio Farmer (nuweling van die jaar), Eden o.20-rolbal (span van die jaar), Agrella (sportvrou: gestremd), Martin Vorster (junior sportman) en Johan Windt (meester-sportman).
Pacaltsdorp Primêr en Hoërskool George is saam met Heidedal Primêr genomineer vir beste ontwikkelingskoolspan.
Daar is een benoemde vir die nuwe kategorie, rekreasie sportliggaam van die jaar: Philip Seroux. Dié toekenning gaan aan 'n sportliggaam of -persone wat ontspanningsaktiwiteite reël wat nie georganiseerde sport behels nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'