RIVERSDAL NUUS - Eden se A-mansspan het die A-afdeling van die interdistrikte jukskeitoernooi Saterdag hier in Riversdal met 65 punte gewen.
Altesame 64 spelers uit vier distrikte het aan die jaarlikse toernooi deelgeneem. Weskus moes ongelukkig onttrek.
Overberg het in die B-afdeling koning gekraai met 51,5 punte terwyl die Kaapse Wynland (ou Boland) die C-afdeling met 74,5 punte gebuit het.
Eden het in die D-afdeling skoonskip gemaak met 54 punte.
Henry Gerber, voorsitter van Eden-jukskei, het die toernooi as 'n groot sukses beskryf en gesê toestande was bykans perfek vir jukskei uit die boonste rakke. "Die toernooi is weer eens goed deur feitlik al die distrikte ondersteun. Weskus moes ongelukkig onttrek weens die lang afstand wat hulle moes aflê na Riversdal wat teen groot onkoste sou kom. Maar al die deelnemers het die mooi dag terdeë geniet."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’