Update
RIVERSDAL ROLBALNUUS - Rolbal by Riversdal-rolbalklub is baie bedrywig en verskeie kompetisies het verlede week, asook die naweek plaasgevind.
Sosiale liga
Die tweede week van die sosiale liga het Dinsdag, 2 Maart, asook Donderdag, 4 Maart suksesvol verloop.
Trips-borgdag
Bennie, Celvin en Ashley Basson het die klub Saterdag, 6 Maart by Beaufort-Wes-rolbalklub se groot trips borgdag verteenwoordig. Uit 36 sterk spanne met provinsiale spelers het hulle 'n uitsonderlike vierde plek behaal. Die manne het twee uit die drie spelle baie goed oorwin, maar het in die laaste een bietjie kleigetrap teen die Murraysburg-span, Chris, Jacques en Johannes.
"Die manne se fantastiese spel en goeie sportmangees tref die rolbalstrukture voorwaar op alle vlakke met 'n slag en plaas Riversdal-rolbalklub op die voorgrond," sê Charl Nortjé, die klub se mediabeampte. "Beaufort-Wes-rolbalklub se president, Esther Esterhuizen en sekretaris Anton Barnard het die Bassons baie goed ontvang."
Die president van Eden Bowls, Tom Strydom was ook teenwoordig.
Dames-enkelskampioenskap
Die eerste ronde het verlede week by Riversdal-rolbalklub afgeskop. Die opkomende wedstryde tussen die oorblywende ses vrouelede sal oor die volgende paar weke geskied.
Eerste om die bal aan die rol te sit was Mimi du Plessis teen Rina Gouws. Laasgenoemde het daarin geslaag om die spel teen Du Plessis te oorwin.
Die De Villiers-gesin het die pryse vir die dag geborg en Schalk de Villiers (derde van links) het dit aan Ashley, Bennie en Celvin Basson oorhandig.
Ledespel
Vier-en-twintig spelers het Saterdag vir spel opgedaag, asook vyf nuwe besoekers wat belangstelling in die sportsoort getoon het. "Ons is baie bly dat hulle deel van spel was en 'n paar balle kon saamrol. Ons waardeer opreg al ons borge wat bydra tot die bevordering van ons geliefde sportsoort."
Die wenspan van die geskenkbewys was Marvin Kortjé (lei), Pieter Kleinhans (2de) en Jan Cilliers (skip).
Vorige artikel: Balle rol weer in Dal
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'