RIVERSDAL SPORTNUUS - Dertig gemotiveerde jukskeispelers vanoor die hele Eden-distrik het verlede Saterdag laer op 'n snikhete Riversdal getrek.
Die Gielie Wessels-jukskeidag, ter herdenking aan 'n vroeëre ywerige en toegewyde speler en administrateur, is van stapel gestuur.
Daar is in twee afdelings meegeding. Terwyl slegs twee A-spanne en vier B-spanne ingeskryf het, het beide in een afdeling deelgeneem. Vier C-spanne het teen mekaar gekompeteer. Die formaat van mededinging is op 'n driespel (of trips) gebaseer.
Trips, waar slegs drie spelers in 'n span speel, is meer veeleisend as die gewone vierspel. Die tydsduur van 'n wedstryd word uiteraard ook ingekort met 25 minute. Selfs sodanige reëling put die ouer spelers se kragte geweldig uit.
Die spanne van Worcester (een), Hartenbos (drie) en Riversdal (twee) het mekaar behoorlik laat sweet in die A- en B-afdelings. Die klein punteverskil tussen die eerste drie spanne spreek daarvan. Die A-spanne het met 45 punte elk gelykop geëindig, terwyl die B2 span slegs 'n halwe punt na die A-spanne geëindig het.
Spanne het mekaar deeglik opgedreun. Dit het tot gevolg gehad dat min skofte aangeteken is. Sodra 'n span 23 punte behaal en die opposisie kan die skof nie uitwis of soos ons in jukskeitaal praat, sny nie, verdien die span vyf punte.
Die maksimum skofte per wedstryd beloop drie of te wel 15 punte.
Verblydend is die feit dat een span vanaf Gouritsmond, by name die Haaie, asook een span van Stilbaai in die C-afdeling ingeskryf het. In die jongste tyd word al meer sosiale spanne by die amptelike geregistreerde byeenkomste betrek. Dit word waardeer.
Die uitslae is soos volg (Waar punte wel beskikbaar was, word dit in kakies ingevoeg):
A-afdeling
- Hartenbos (45); Worcester (45).
B-afdeling
- Hartenbos B2 (44½); Hartenbos B1 (35½); Riversdal B1 (28½); Riversdal B2 (26½).
C-afdeling
- Hartenbos; Mosselbaai; Gouritzmond; die Haaie; Stilbaai.
Goud-, silwer- en bronsmedaljes is aan die eerste drie plekke toegeken.
'n Interdistrik toernooi word Saterdag, 28 November in Bellville gespeel. Distrikte wat normaalweg deelneem is die WP, Kaapse Wynlande (vroeëre Boland), Overberg en Eden.
Die opening is om 07:30 en spel neem 'n aanvang om 08:00. Eden-spelers speel in hul amptelike Eden jukskeidrag. Sterkte word alle deelnemende spelers toegewens.
Silwermedalje wenners (B-afdeling): Elias Burger, Elna van der Berg en Chris Viljoen.
Silwermedalje wenners (A-afdeling): Rian van der Walt, Theana van der Walt en Louis Badenhorst.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'