Hierdie gewilde kragmeting tussen die twee bekende topskole het duisende toeskouers gelok wat van heinde en verre op die dorp toegesak het. Opwinding en entoesiasme was sedert verlede Donderdag duidelik sigbaar na 'n uiters suksesvolle Groot Brag-geleentheid, deur leerders en ouers van Oakdale bygewoon. Van die sestien spanne wat aan die interskole deelgeneem het, het 12 van die Oakdale-spanne hul wedstryde gewen, waaronder al die A-spanne.
Die tellings lyk soos volg
O.14C verloor 8-13; o.14B wen 8-3; o.14A wen 10-3 en o.15D wen 18-12.
O.15C verloor 7-10; o.15B wen 6-0; o.15A wen 13-11 en o.16C verloor 10-22.
O.16B verloor 10-13; o.16A wen 24-5; sesdes wen 41-5 en vyfdes wen 14-5.
Vierde span wen 31-7; derdes wen 15-0; tweedes wen 27-7 en die eerstes wen 29-10.
Oakdale het Vrydagmiddag ook die interskole gholfwedstryd teen Boland met 4 wedstryde teen 2 gewen met hul beste spelers Phillip Kruger, Hendré van Zyl en Franco Human.
"Die 2013-seisoen was belowend en suksesvol met inagneming van wedstrydprestasies van al die spanne. Dit was veral die A-spanne wat hul man gestaan het teen die sterkstes in die land. Daar word met groot verwagting uitgekyk na die 2014-rugbyseisoen en daar word reeds gedurende hierdie week rugbyproewe gespeel met betrekking tot die samestelling van die 2014 o.19A-span," het die hoof, mnr. André Latsky, gesê. Kondisionering van leerders vir alle sportsoorte deur mnr. Kobus Calldo, sportwetenskaplike, is nou 'n prioriteit en sal deurlopend en daagliks aandag geniet. Calldo is sedert Oktober verlede jaar in diens van die skool en het reeds 'n groot bydrae tot die Oakdalers se professionele benadering tot die sport en kondisionering gelewer.
Die A-spanne het die afgelope seisoen soos volg presteer
O.14A-span speel 13 wedstryde, wen nege en verloor vier wedstryde;
O.15A-span speel 14 wedstryde, wen agt en verloor ses wedstryde;
O.16A-span speel 13 wedstryde, wen 10 en verloor drie wedstryde;
O.19B-span speel 12 wedstryde, wen 10 en verloor twee wedstryde;
O.19A-span speel 17 wedstryde, wen 13, speel 1 gelykop en verloor drie wedstryde.
"Die skool beskik oor entoesiastiese leerders en kundige toegewyde personeel en afrigters bydraend tot die 2013 sportsuksesverhaal. Oakdale bedank graag alle ouers en ondersteuners vir hul lojaliteit en ondersteuning," het Latsky afgesluit. Hoër Landbouskool Oakdale bedank ook alle spanborge vir hul ondersteuning gedurende die 2013-seisoen.

Suid-Kaap FORUM het Vrydag, 16 Augustus 50 koerante aan die Hoër Landbouskool Oakdale oorhandig om hulle voorspoed met die Interskole kompetisie die afgelope naweek toe te wens. Die koerante was gratis aan besoekers uitgedeel. Van links is Salomé Kruger (Adverteenwoordiger: Suid-Kaap FORUM), Philip du Preez en Andries Wiese (beide Mutual & Federal Agri), André Latski (hoof: Oakdale) en Elize Blom (redakteur, Suid-Kaap FORUM). Foto: Wilma Adamson.