Update
HESSEQUA SPORTNUUS - Twee potspelklubs in Albetinia het op Sondag, 31 Oktober in 'n opwindende, dog spanningsvolle wedstryd kragte in die plaaslike gemeenskapsaal gemeet.
Heelwat toeskouers het dié belangrike wedstryd bygewoon, maar volgens die organiseerders is alle Covid-19-prodedures gevolg.
Die kragmeting is onder luide aanmoediging van hul onderskeie ondersteuners begin.
Dit was egter die spelers van Black Balls wat weereens gewys het dat hulle baie vinnig na die boonste twee plekke op die log is. Hulle verslaan vir Down Town met 21-15.
In die eerste kragmeting tussen die C-spanne, het Down Town die wedstryd goed begin en hulle eindig gelykop met 6-6.
Black Balls se veteraanspeler, Ricardo du Toit het sommer met sy eerste wedstryd sy opponent gewys hoe dinge gedoen word. Hy het vir Keanan Tarentaal net toegelaat om een bal in te skiet en daarna het hy tafel skoongemaak. Du Toit, wat meer bekend is as 'Meester' by sy span het Down Town se ondersteuners behoorlik geskok met sy indrukwekkende vertoning toe hy twee van sy drie wedstryde wen.
Black Balls se B- en A-spanne het geen genade betoon nie en Down Town kon slegs 9 punte altesaam byvoeg.
Die wenspan speel hulle volgende wedstryd tuis teen Kingshooters van Heidelberg.
V-Dub van Albertinia het ook 'n loesing by Q–Lovers in Heidelberg gekry. Laasgenoemde wen die wedstryd met 26-10.V-Dub speel Saterdag, 6 November teen Scorpion Kings van Slangrivier en Sondag, 7 November teen Highprits van Heidelberg.
Puntestand (log)
1. Khula - 106;
2. Q Lovers - 103;
3. Blackballs - 92;
4. Skarrelkids - 90;
5. Shootingstars - 84;
6. Downtown - 82;
7. Legendkillers - 82;
8. V-dub - 78.
Heelwat toeskouers het die derby tussen Black Balls en Down Town ondersteun.
VORIGE ARTIKEL: Down Town kry pakslae
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'