TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Dat vis oor die jare skaarser geword het, is 'n feit.
Skaarser ja, maar steeds genoeg om die ywerige en kundige hengelaar entoesiasties en dankbaar by sy vangplek langs die viswaters te hou.
Waarom hengel? Geen apteker het medisyne op sy rakke wat kan meeding met wat hengel bied nie.
Daardie vars reuk van die see met springlaagwater, verruklike natuurskoon, sout seelug op die vel en rustige suising van die see is lafenis vir die gemoed. En dan daardie heerlike afwagting op 'n blinklyf wat die aas enige oomblik kan optel.
Nee, geen hengelaar met seesout in sy are gaan visvang maklik vaarwel toeroep nie. Kus- en getyrivierhengel bly van die gesondste en aangenaamste buitelugaktiwiteite wat daar is.
Wat het die visgetalle laat krimp? Kom ons kyk eers na die diepsee. In sy boek Gooi Los! vertel Jan Langenhoven op treffende wyse die verhaal van die vissermanne van Witsand en Port Beaufort aan die Breëriviermond. Daar word ook verwys na die verwoesting van die visbronne.
Een inwoner van Witsand verwys na die impak van skiboothengelaars. Hy vertel hoe skibote in die sestigerjare dag na dag uitgegaan het en tonne vis van die banke afgeoes het. Party dae was daar 'n hele aantal bote op een bankie.
As ons in gedagte hou dat hierdie praktyk ook langs ander dele van ons kus toegepas is, word dit duidelik dat die visbronne hierdeur nadelig geraak moes word.
Nog 'n visser van Witsand maak melding van die rol van treilers. Van die treilers het glo snags hulle ligte afgeskakel en hulle nette selfs in die verbode waters van die reservaat kom sleep. Ek het ook verneem van soortgelyke wanpraktyke elders langs ons kus.
Wat van kushengel? Hier moet hengelaars self ook deel van die skuld dra. En ek sluit myself hierby in. Galjoene was vroeër volop en sakke vol is gevang. Daar is net nie gedink dat dat hulle ooit minder kan word nie.
Toe hulle mettertyd al kleiner en minder word, kom die saklimiete en groottebeperkings. Hieraan steur baie hengelaars hulle glad nie. Dit geld ook ander spesies. Hoeveel hengelaars volstaan met vier elwe as hulle 'n skool raakloop? En wetstoepassing? Dié is om die minste te sê, pateties.
Mondings van baie riviere is met sand toegespoel en die normale migrasie van broeivisse na die rivier en van jong visse terug see toe, vind nie meer soos vroeër plaas nie.
Daar was deur die jare 'n obsessie by baie hengelaars om groot visse te vang om mee te gaan spog. Hierdie is broeivisse. Neem 'n foto en plaas die bielie terug. Gaan dan voort en vang kleiner vis wat in elk geval baie smaakliker is.
Beskerm en bewaar vir die toekoms; God het immers die mens daargestel om oor Sy Skepping te heers!
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'