RIVERSDAL NUUS - Eden het weer eens geseëvier by die jaarlikse interdistrikte jukskeitoernooi wat verlede Satserdag in Riversdal aangebied is.
Rohann Albertyn, voorsitter van Eden Jukskei, sê hy was in sy noppies met die mooi opkoms by vanjaar se interdistrikte toernooi. "Eden Jukskei het die dag suksesvol aangebied en alles het glad verloop. Goeie jukskei is gespeel en as ons na die punte kyk is dit duidelik dat daar strawwe kompetisie tussen die verskillende distrikte was."
Eden het algeheel 214,5 punte opgestapel met Kaapse Wynlande (voorheen Boland) wat in die tweede plek ingeskuif het met 168,5 punte. Overberg was derde met 159,5 punte en die Westelke Provinsie vierde met 60 punte.
Eden het een goud, twee silwer en twee bronsmedaljes in die onderskeie afdelings verower en het ook as algehele wenners uit die stryd getree.
"Al Eden se spelers was waardige ambassadeurs en ons sien uit na die volgende interdistriktoernooi wat op 30 November in Moorreesburg gaan plaasvind," het Albertyn afgesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’