STILBAAI NUUS - Vier lede van die plaaslike rolbalklub is gekies om Eden-rolbal tydens die SA inter distrikte toernooi, wat gedurende Maart plaasgevind het, te verteenwoordig. 'n Eerste vir dié klub.
Suid-Afrika word in 20 distrikte verdeel. Dit word nasionaal in twee groepe van 10 distrikte verdeel wat op 'n rondomtaliebasis teen mekaar meeding. Eden-rolbal kies jaarliks drie spanne van agt lede uit nagenoeg 2 000 geregistreerde spelers om die distrik te verteenwoordig, naamlik die ope-, B- en die senior span (spelers oor 60 jaar).
Stilbaai-rolbalklub val in die Eden-distrik wat vanaf Plettenbergbaai in die ooste, tot Heidelberg in die weste en Beaufort-Wes in die binneland strek. Dit is geografies 'n baie groot gebied.
Die opespanne het vanjaar in George gespeel, die B-spanne in Johannesburg en die senior spanne in Durban.
Die plaaslike klub was baie goed verteenwoordig tydens hierdie inter distrikte kompetisie. Die vier lede was, Johann Roestorff (B-span), Piet Robbertse (senior mans), Mariaan van der Walt en Magda Robbertse (senior dames).
Vier lede van die plaaslike rolbalklub is gekies om Eden-rolbal tydens die SA inter distrikte toernooi, wat gedurende Maart plaasgevind het, te verteenwoordig.
Eden het uitstekend gepresteer tydens die nasionale kompetisie en Robbertse het 'n goue medalje verower. Van der Walt en Magda Robbertse het beide bronsmedaljes gewen.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'