"Soos ek al 'n paar keer tevore gesê het, is Heidelberg vir Sages 'n baie lekker besoekpunt, want jy word lekker bederf met eetgoed deur Kobus en Susan Meyer en hul vorige president, Jannie Gildenhuys, asook hul huidige president, Pietman Uys, laat 'n mens met hul gasvryheid altyd baie welkom voel.
Alhoewel daar nog een Sages-byeenkoms later op Riversdal is, was die besoek aan Heidelberg dan ook die amptelike afsluiting vir die Sages vir vanjaar en die spelers is getrakteer op 'n smullekker braai na die kompetisie. Baie dankie aan Jacques Bekker en sy span vir 'n heerlike dag saam met julle," het Marius Loubser genoem.
Die spelers kompeteer elke jaar op die afsluitingsdag vir die Hennie Huyser-trofee.
Die formaat is 'n beterbalkompetisie en hierdie jaar het twee Boggomsbaaiers, André Goetz en Thinus Prinsloo stof in die ander manne se oë geskop met 'n stewige 47 Stablefordpunte. Vir Deon Upton, 'n plaaslike Sages-speler was dit 'n baie spesiale dag, want hy het 'n kolhou op putjie 7 aangeteken. Hy speel van 'n 11 voorgee af.
Die volledige uitslag van die beterbalkompetisie was as volg: 1. André Goetz en Thinus Prinsloo - (Boggomsbaai) 47; 2. Deon Upton (Heidelberg) en Basie Nortjé (Riversdal) 45; 3. Ben Klinck en Buks Reynders (Mosselbaai) 44; 4. Frans Myburgh en Grové Koch (Riversdal) 44; 5. Deon Upton (Heidelberg) en Bill Annandale (Stilbaai) 44; 6. Fred Bull (Mosselbaai) en Berto van Dyk (Riversdal) 44.
Die laaste Sages-byeenkoms vanjaar is Dinsdag, 25 November op Riversdal en dit is 'n IPS-kompetisie.

Die kolhouman, Deon Upton en Basie Nortjé (tweede), André Goetz en Thinus Prinsloo ( Hennie Huyser-trofeewenners), Ben Klinck en Buks Reynders (derde) en Paul de Villiers (voorsitter).
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'