RIVERSDAL NUUS - Een van die dorp se polisielede is nie net goed met skelms aankeer nie.
Garnet Damans blink ook in gholf uit.
Hy het van 13 tot 19 Oktober as lid van die Wes-Kaap SAPD-gholfspan 'n individuele tweede plek tydens die nasionale kampioenskap op Potchefstroom verower.
Die span het ook 'n silwermedalje huis toe gebring. Damans het met dié prestasies vir homself 'n plek in die span vir die Intermagte-kampioenskap wat in 2020 sal plaasvind, losgeslaan.
Hy is al sedert skooldae 'n kranige gholfspeler en vertel hoe hy alles geleer het wat hy kon terwyl hy as sakdraer (caddy) vir spelers soos Louis Oosthuizen opgetree het. 'n Gebrek aan finansies het gesorg dat hy eers in 2011, na hy by die polisie aangesluit het, ernstig begin speel het.
Damans bedank elke individu en besigheid wat met geldelike bydraes dit vir hom moontlik gemaak het om die nasionale toernooi by te woon.
Dis een van sy drome om 'n ontwikkelingsprogram vir kinders aan te bied, om hul belangstelling in gholf te stimuleer en opleiding in die sport te gee. Enigiemand wat belangstel om saam met hom dié doel te verwesenlik kan hom by 073 549 2951 skakel.
Hy kan ook per e-pos by garnetdamans186@gmail.com bereik word.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'