STILBAAI NUUS - Die Stilbaai-gholfklub het verlede Saterdag hul jaarlikse nagkompetisie ten bate van die Grace Voorbereidingskool aangebied.
'n Total van 44 spelers het 'n heerlike koel volmaanaand op Stilbaai se puik gholfbaan aangedurf. Elke speler het 'n glow in the dark-balletjie as deel van die inskrywing ontvang.
Stilbaai Spar en Tops @ Spar, Old Style Butchery en Lew Geffen Sotheby's het seker gemaak die spelers het ietsie om te drink asook ietsie om te hap terwyl hulle die aand se spel geniet het.
Elke speler het aan die einde van die aand 'n prys ontvang en hulle kon kies uit die verskeidenheid pryse wat deur besighede in die omgewing geborg is.
Pinacle Point-gholfklub in Mosselbaai het 'n vierbalspel by hulle geborg wat ook die aand opgeveil is.
Alle fondse wat die aand ingesamel is, word aan Grace-voorbereidingskool oorhandig.
Grace is 'n nuwe privaat Engelse skool wat tans besig is om in Stilbaai wortel te skiet.
Die skool volg 'n internasionale kurrikulum en bestaan reeds uit 'n gr R-klas, 'n junior en senior skool asook 'n klas vir kinders met spesiale behoeftes.
Fondse sal gebruik word om die skool se fasiliteite te verbeter asook om die gr R-klas toe te rus.
Die skool bedank graag Stilbaai-gholfklub vir die geleentheid om die mede-aanbieder van die naggholfkompetisie te wees en hul bereidwilligheid om te help en ondersteuning om die geleentheid so 'n groot sukses te maak. 'n Groot dankie gaan ook aan al die borge.Nel Fourie (links) en Wimpie O'Connel was die wenpaar van die aand. Wimpie het 'n rondte van 36 geslaan.
JC en Louis Janse van Rensburg (regs) met hulle pryse vir die aand. JC het ook die bod op die Pinnacle Point-veiling gewen.
Pikkie Gower (links) en Bez Bezuidenhout was die eerste spelers terug in die klubhuis. Hulle het net lof gehad vir die heerlike natgate wat hulle gedurende die rondte gholf kon geniet.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'