'n Aantal van 115 spelers van regoor die land het ingeskryf, wat onder andere Kaapstad, Hermanus, Beaufort-Wes en Plettenbergbaai insluit en daar was selfs spelers vanaf Johannesburg. Hulle is spesiaal deur hul gemeente gestuur om hul sustersgemeente in Riversdal te ondersteun.
Elke deelnemer het tydens die prysuitdeling 'n prys ontvang, selfs diegene met die laagste puntetelling.
Die klubkaptein, mnr. Johan Nortjé het die Lutherse Kerk geprys vir die gholfdag wat elke jaar op 'n puik manier deur die reëlingskomitee georganiseer word. In sy toespraak het hy spesifiek genoem dat dit die dag is wat die grootste aantal gholfspelers na Riversdal gholfklub lok, dus kan dit beskou word as die grootste gholfdag in die dorp. Die dag was gekenmerk deur perfekte weer, goeie gholf en samesyn tussen die spelers.
Die wenners is mnre. Dan Ruiters en CJ Rossouw. Mnr. Anton Swart en sy seun, JC het die prys gewen as die bes geklede span van die dag. Na die spel is almal teenwoordig met verskillende soorte potjiekos bedien.
Volgens die reëlingskomitee groei die gholfdag jaarliks en is die spelers wat van buite kom ook meer. Daar is reeds groot belangstelling vir volgende jaar en dit beloof om weereens groter as vanjaar te wees. Al vraag waarmee hulle worstel is oor hoe om op hierdie jaar se dawerende sukses te verbeter!
Sondagoggend het die gemeente 'n dankseggingsdiens gehou en die gasprediker was pastoor Calvin Vilander van Johannesburg, wat die gemeente aangespoor het om hul oog op Jesus te vestig. Hy het die gepaste voorbeeld gebruik dat indien 'n gholfspeler nie sy oog op die bal vestig nie, hy heel waarskynlik 'n brouhou sal speel.

Hierdie manne het spesiaal al die pad van Johannesburg gekom vir die gholfdag: Pastoor C. Vilander met mnre. C. Brink, C. Sauls en B. Mokwena.