Video
GHOLF NUUS EN VIDEO - 'n Vrou wat in die "geheim" gholflesse geneem het om uiteindelik haar man te beïndruk het verlede week gewys wat sy met 'n gholfstok kan doen toe sy 'n kolhou op die 2de gaatjie van die Kingswood-gholfbaan gespeel het.
Gill van Greunen het Maandag 4 September vertel van die kolhou wat sy verlede Woensdag, 30 Augustus, behaal het.
Sy het deelgeneem aan die maandelikse PSG Wealth Outeniqua Cup. Dit was die eerste keer dat sy 'n kolhou gespeel het en het R50 000 daarmee gewen.
Sy en haar man Deon, is inwoners van Kingswood en ywerige sosiale gholfspelers. Hulle speel suiwer vir die pret.
Hulle kom oorspronklik van Johannesburg en het 'n paar jaar gelede in George gevestig.
Destyds in Johannesburg het een van haar vriendinne gholf gespeel. In daardie stadium het Deon al gespeel. Gill het besluit om privaat lesse te neem om Deon te verras. Toe hy een aand by die huis kom, het sy hom vertel van die lesse.
Hulle het vir haar 'n stel gholfstokke gaan koop en van toe af was daar nie keer nie. Die egpaar het saam begin speel en speel ten minste een keer per week.
VIDEO - Gill van Greunen het 'n kolhou geslaan op die 2de gaatjie van die Kingswood-gholfbaan. Sy vertel meer:
Video: Eugene Gunning
Oor die kolhou het sy vertel die gaatjie is sowat 136 m lank. Dit is 'n par 3. Dit is een van die gaatjies wat sy gewoonlik goed speel. "My man het al gespot en dit Gill se gaatjie genoem."
Gewoonlik gebruik sy 'n 9 hout, maar die dag het sy 'n 6 yster gebruik. Daar was 'n baie sterk wind van agter. Sy het gedink as sy 'n hout gebruik sal sy dalk die bal oor die setperk slaan. Sy het die bal geslaan en dit was goed. Die bal het gerol en "verdwyn".
Mense op die bluf was oorbluf. Sy het na Deon gekyk. Sy arms was omhoog en hy het gejuig. Sy het steeds nie besef dat sy R50 000 gewen het nie.
Vir die daaropvolgende gaatjies was sy baie opgewonde, maar het later gekalmeer. Uiteindelik het sy 'n goeie ronde gespeel.
Sy beskou dit as 100% geluk. Volgens haar behoort almal die geleentheid te gebruik om gholf te speel. Mens weet nooit wanneer dit met jou gebeur dat jy 'n kolhou speel nie. As dit met haar gebeur het, kan dit met enigiemand gebeur. "Moet nooit sê nooit nie. Ek is bewys daarvan."
Die geld is 'n bonus en sy het tong in die kies bygevoeg: "Dis nie asof ek nou oorweeg om professioneel te begin speel nie."
Deon het vertel dat hy nog nooit 'n kolhou gespeel het nie. Volgens hom is Kingswood nie 'n maklike baan nie. Daar is sandkuile en dit maak die baan 'n uitdaging.
Die wengeld kon nie op 'n beter tyd gekom nie. Die egpaar is besig met verbeterings by hul huis en gaan die geld daarvoor aanwend.
Gill van Greunen beduie na die setperk van die 2de gaatjie waar sy die kolhou gespeel het. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’