HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike gholfbaan was Dinsdag 21 Augustus letterlik 'n miernes van bedrywigheid toe 68 gholfspelers daarop toegesak het.
Die geleentheid was die jaarlikse botsing tussen Langeberg Sages en Suid-Kaap se spelers. Die byeenkoms word om die beurt elke jaar tussen Swellendam en Heidelberg aangebied en hierdie jaar was dit dan die Suid-Kaap wat gasheer was.
Die formaat was 'n Beterbal-Stablefordkompetisie en die wenners tussen die twee unies is bepaal volgens die gemiddelde Stablefordpunte van elke unie se totale pare. Suid-Kaap het 46 spelers (23 pare) in die veld gehad en Langeberg 22 spelers (11 pare). Brian Oosthuizen en sy spelers van Langeberg klop Suid-Kaap oortuigend met 'n gemiddeld van 44 teenoor 40,3.
In die Beterbalkompetisie het twee pare met hul spel bo die ander spelers uitgetroon. Johan Barnard van Riviersonderend en Lampies Lambrecht van Worcester teken 'n fenominale 54 punte aan, gevolg deur Leon van Schalkwyk van Boggomsbaai en Dave Gravett van Stilbaai se ewe goeie 52. Johan, Barnard, 'n 12 voorgee, het 'n brutotelling van 75 oor die 18 putjies aangeteken en sy maat, Lampies Lambrecht, 'n 20 voorgee, 'n ewe goeie 86.
Uitslae
- Johan Barnard en Lampies Lambrecht (Langeberg) 54;
- Leon van Schalkwyk en Dave Gravett (Suid-Kaap) 52;
- Johan Steyn en Bill Skinner (Langeberg) 48;
- Van le Roux en Pieter le Roux (Suid-Kaap) 47;
- Gielie Meyer en David Francke (Langeberg) 47;
- Wouter Human en Nico van Shalkwyk (Langeberg) 46;
- Dawid Gerber en Chris Barnard (Suid-Kaap) 46;
- Bill en Celia Hart (Suid-Kaap) 45;
- Chris Coert en Brian Oosthuizen (Langeberg) 45;
- Gary Ristow en Pat Tavener (Suid-Kaap) 45.
Naaste aan die penne is gewen deur Charl du Randt (Suid-Kaap) op 4/13 en Karl Lewis (Suid-Kaap) op 7/16. Die klub bedank Anton Swart, eienaar van JC Slagtery op Riversdal wat tradisioneel die naaste aan die penne borg met twee pakke wors. Hy het ook 'n groot geskenkpak opgemaak wat uitgeloot is om ekstra geld vir Sages se kankerinsameling te in.
SSK skenk ook reeds die afgelope vier jaar 'n ruim bedrag vir dié kompetisiedag, ongeag groot terugslae wat hulle die afgelope twee jaar beleef het. Sages van Suid-Kaap spreek hul dank uit vir hierdie gebaar van welwillendheid en bedank Kobus van Loggerenberg wat namens SSK die prysuitdeling bygewoon het.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'