RIVERSDAL NUUS - Sundowner - Vrydag 12 Januarie - 'n Groep van 20 gholfspelers uit die George-omgewing het die afgelope naweek die plaaslike gholfbaan geannekseer en behoorlik amok gemaak onder die uitslae tydens die twee kompetisies Vrydag en Saterdag.
Die Sundowner is deur Gina Barnard van George gewen met 22 punte, gevolg deur drie plaaslike spelers met 21 punte elk: Frans Myburgh, Alriqye Julies en Basie Nortje.
Eerste houespelkompetisie van die jaar - Saterdag 13 Januarie - Die kompetisie het in baie warm en bedompige weer plaasgevind.
Dit was ook die eerste van twee bene van die Le Grange-beker, asook die eerste van 12 toernooie gedurende die jaar met die titel 'The Race to Wembley', waartydens Wembley Drankwinkel as borg vir 'n gesogte prys optree aan die einde van die jaar.
Ook hier het die manne van George vir die plaaslike spelers 'n gholfles geleer met Francois Barnard wat met 'n skitterende 62 houe vier houe voor Mark Stander met 66 houe geëindig het.
Hulle is gevolg deur JC Swart, Rene Roos en Boetie Crous met 67 houe, en Gina Barnard (George) volgende met 68 houe.
"Ten spyte van die baie warm en droë weer is die baan steeds in 'n goeie toestand en bedank ons graag vir die baanopsigter en sy personeel wat hard moet werk om die baan so te hou. Ons vertrou dat die reën op sy tyd sal kom en sien uit na 'n aangename jaar se spel op 'n puik gholfbaan," sê Grové Koch, sekretaris.
Die kalender vir die nuwe jaar is by die klub beskikbaar. Kontak die klub by 028 713 3056 of 082 852 0464 vir enige ander navrae of besonderhede oor tariewe en bepalings.
Die klub se nuwe webwerf, www.riversdalgolfclub.co.za is nou in werking en kan besoek word vir algemene inligting.
Besoek ook hul Facebook-blad Riversdal Gholfklub vir sosiale nuus en plasing van foto's en nuuswaardighede wat op die gholfklub van toepassing is.
STILBAAI
Sundowner - Vrydag
Dames - 1. Susan Buys; 2. Annatjie Blake. Mans - 1. Charl Marais (22); 2. Daan Toerien (21); 3. Garry Ristow (21); 4. Martin Worth (20).
Monthly Medal - Saterdag
Mans: A-afdeling - JP du Plessis (67); B-afdeling - Dave Gravett (70); C-afdeling - Rassie du Plessis.
Dames: Yvette du Plessis (73); Wilma Laubser (73).
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'