HESSEQUA GHOLFNUUS - Op 'n gholfbaan vind jy onder andere 'n afslaangrond, waterhindernisse, rowwe buite perke, sandkuile, skoonveld, setperk, vlagpaal en 'n gat.
Dit word beskryf as 'n buitelugsport waar individuele spelers of spanne 'n klein balletjie tot binne 'n gaatjie in die grond moet slaan deur verskeie gholfstokke te gebruik.
Met dié buitelugsport op 'n gholfbaan vind jy ook 'n 19de putjie, beter verwoord as die lafenisarea. Anders as met die 18 putjies word daar nie punte aangeteken in die - en let wel, nie óp die 19de putjie nie.
Dis die kroeg! Vra jy vir 'n gholfspeler of hy lafenis in die klubhuis vind, dan sê hy, "nee, in die kroeg."
In die 19de putjie word slim mense 'gebore', want so halfpad deur die spel word by die 19de putjie aangedoen. Gholfkarretjies word mooi parkeer, want dis 'n gentlemen and ladies lafenisgebied, soos die Nederlanders dit tereg as 'n verfrissing, verkwikking, baat, hulp, heul, heil, nut en plek van voordeel beskryf.
Die eerste persoon met wie jy in die 19de putjie praat, is die kroegman. "Maak dit twee dubbels," is die bestelling. "Nee, 'n enkel asseblief," stry die medespeler die alkoholinhoud af. Nou goed. Maak syne 'n enkel, maar maak net dubbel seker dis 'n enkel," word die bestelling herbevestig.
Dan word daar rus gevind voor die spel voortgaan en gesprekke aangeknoop. Tellingkaarte, voorgees en die goeie oes is op die agenda.
Liefde en gesonde huwelike word ook bespreek. Soos meeste mans maar sê, verklaar een: "Ek kan nie my vrou teleurstel nie." Wat hy bedoel is dat hy met 'n prys moet huis toe gaan. "Moenie op jou senuwees wees nie," bemoedig sy spanmaat hom.
So word besigheid bespreek en mondelingse kontrakte aangegaan. Ek het met my eie oë op Oudtshoorn gesien hoe 'n besigheid gekoop en 'n voorlopige kontrak op 'n vuurhoutjieboksie geteken word... en die transaksie met 'n glasie beklink word. "Sit op my tab," is die debiteur se woorde. "Gesondheid."
En toe speel die vorige eienaar en nuwe eienaar voort aan die oorblywende nege putjies.
Maar moenie 'n fout maak nie. Oortreding van die 19de putjie se reëls is selfs met skorsing strafbaar. Dis 'n plek van nut en lafenis vir gentlemen and ladies.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'