SUID-KAAP NUUS - Na maande se gewag en ondersteuners wat honger is dat die plaaslike rugbyklubs weer hul ligaverpligtinge vir 2018 kan begin, het die eerste wedstryde Saterdag 10 Maart afgeskop.
Verskeie vriendskaplike wedstryde is voor die tyd gespeel om spelers skerp en wedstrydfiks te kry, asook om kombinasies uit te werk.
''In die Langebergstreek het ons spanne wat aan die Presidentsliga deelneem, asook Heidelberg wat verhoogde status gekry het deur hulle goeie spel en nou in die Premierliga deelneem,'' sê Jakkie Wessels van SWDRFU uitvoerende bestuur.
Gouritsmond neem aan die Kusstreekliga deel. Die streekligas sukkel meestal om die nodige blootstelling te kry, maar soos met enige ander klub is daar spelers met potensiaal en wat baie geesdriftig aan hul geliefde sport deelneem. So was dit dan ook Saterdag toe Black Dolphins van Gouritsmond teen Hungry Lions van Klein-Brakrivier deelgeneem het.
Dit was 'n wedstryd wat reg van die begin teen 'n hoë tempo begin is. Die gevoel was dat beide spanne nie die tempo en vaardighede vir 80 minute sal kan volhou nie, maar beide spanne het egter tot die einde verbete ingeklim en die tempo gehandhaaf.
Black Lions se agterlyn het met hul handvaardighede gereeld met die bal aan die loop gegaan en hul teenstanders kon nie die gate altyd toestop nie. Voorlangs het die skrums met tye vir beide spanne gelol en skeidsregter Jaco Snyman het gou sy stempel afgedruk om orde in die afdeling van die spel te handhaaf.
Dit was ook 'n plesier om te sien hoe die skeidsregter met respek, maar met gesag die wedstryd hanteer en bestuur het. Daar was geen enkele voorval nie en die geel- en rooikaarte het in sy sak gebly.
Hungry Lions het die wedstryd met 23-3 gewen. Dit was 'n genotvolle dag langs die rugbyveld op Gouritsmond waar talle toeskouers die wedstryd geniet het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'