Update
HESSEQUA KRIEKET NUUS - Heidelberg United-krieketklub kon die naweek maar net nie hul hande op die gesogte Leonard Hurling-trofee lê nie.
Hulle het Saterdag 23 November in hul tweede ronde wegwedstryd waarin om die trofee meegeding is, die onderspit teen Riversdal gedelg.
Riversdal, wat die loot gewen en besluit het om eerste te kolf, het met 27 lopies gewen. Hulle is vir 187 lopies almal uit na 39,5 beurte.
United se swak boulkeuses, verbroude vangkanse en swak kolfwerk het grotendeels tot hul nederlaag bygedra.
Vir Riversdal het Donny Pietersen met 70 vanaf 96 balle (10x4) die beste met die kolf gevaar. Bart Nel, wat tydens hul vorige wedstryd 'n 100-tal behaal het, kon net 34 vanaf 27 balle (4x4, 1x6) aanteken. Hy is vroeg in sy beurt misgevang. Net Chadwin Paulsen met 13 vanaf 8 balle (3x4) en Herschelle Pietersen met 11 vanaf 11 balle (2x4) kon dubbelsyfers behaal.
Vir United het Andrew Pieters met 4/43 met 1 leeg na 9,5 beurte die beste met die bal gevaar. Hy is goed deur Berthal September met 3/29 met 2 leeg na 7 beurte bygestaan.
Die ander paaltjies is deur Jacquen Meyer met 1/18 na 3 beurte, Danielo du Preez met 1/13 met 1 leeg na 4 beurte en Enzo Lodewyk met 1/16 na 4 beurte, laat kantel.
United wat 188 in hul toegelate 50 beurte moes aanteken, was goed op dreef na 23,3 beurte met hul telling op 143/5, maar het hul laaste 5 paaltjies vir 'n skamele 17 lopies weggesmyt.
Jaques Thyse, kaptein, met 57 lopies vanaf 48 balle (5x4, 2x6) en September met 47 lopies vanaf 73 balle (5x4) het hul bes probeer om die wedstryd te beklink. Net Pieters met 21 vanaf 19 balle (4x4) het ook dubbelsyfers behaal.
Vir Riversdal het Jason Van Rensburg met 3/24 na 6 beurte die meeste paaltjies laat kantel. Die ander paaltjies is deur Granwin Scholtz, kaptein, met 2/34 na 6 beurte,
Donny Pietersen met 2/22 na 5 beurte, Paul Cupido met 2/21 na 3 beurte, asook Byron Esau met 1/2 na 1 beurt, ingeryg.
United speel Saterdag 30 November tuis teen Pirates United van Knysna. Riversdal speel Sondag 1 Desember tuis teen Pirates.
Riversdal-krieketklub se spelers en bestuurslede in jolige luim na hul oorwinning tuis oor Heidelberg United-krieketklub.Foto: Clive Pretorius, korrespondent
Lees 'n vorige artikel hier: United delf onderspit teen Riversdal
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'