HEIDELBERG NUUS - Heidelberg United-krieketklub het Saterdag soete wraak geneem teen sy aartsvyand, Riversdal, en die SWDK Badgers Six Gun Grill Promosieligawedstryd met drie paaltjies gewen.
Met dié sege het hulle ook die gesogte Leonard Hurling-wisseltrofee verower wat hulle jaarliks om meeding.
Riversdal het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Hulle was egter gou in die knyp toe die belowende Marchello Wessels met sy telling op agt, en hul telling op 17 na ses beurte, uitgehardloop is.
Wessels se openingskolfmaat, Bugan Esau, met 25 vanaf 47 balle wat 3 viere ingesluit het, het egter hard probeer sy stempel af te druk, maar met die telling op 66 ná 20 beurte het Riversdal hul derde paaltjie verloor.
Daarna het die tuisspan se boulers, met Garth Pieterse as voorbok, klokslag paaltjies laat kantel en kon die besoekers net 'n skamele 114 lopies aanteken.
Die jong Firlynn Malowitz het moedig probeer walgooi met sy 33 lopies vanaf 49 balle, wat 5 viere en 1 ses ingesluit het, maar geen kolwer kon hom ondersteun nie.
Vir die tuispan het die lenige Garth Pieterse (5/28 ná 7 beurte) die beste met die bal gevaar. Jaylin Opperman (2/8 na 2 beurte), Carlo Williams (1/13 na 6 beurte) en Berthal September (1/26 na 6 beurte) het ook hul deel bygedra.
United wat maar 115 lopies in hul toegelate 50 boulbeurte moes aanteken, was egter gou in die pekel toe hul eerste paaltjie met die laaste bal van die eerste boulbeurt - en hul telling op 14 - gekantel het.
Hul topkolwers het weer ietwat verbrou en in een stadium was Heidelberg op 41/4 na 7 beurte. Pieterse het weer met die kolf uitgeblink en 'n bestendige beurt gespeel vir sy 35 lopies (60 balle met 5 viere). Enzo Lodewyk (16 vanaf 19 balle met 2 viere), Danielo du Preez (15 vanaf 37 balle met 1 vier) en Duan Roberts (14 vanaf 11 balle met 1 ses en 1 vier) het saam met Pieterse die wa deur die drif getrek.
Vir Riversdal het Byron Esau (5/32) die beste gevaar. Herschelle Pietersen (1/15) en Donavin Pietersen (1/35) het ook hard probeer om die tuisspan uit te boul.
Pieterse is ná sy blink vertonings met die bal en kolf as die speler van die wedstryd aangewys.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'