RIVERSDAL KRIEKET NUUS - Die plaaslike krieketklub het Saterdag 9 Maart ’n tweedeplek in die SWD-promosieliga losgeslaan.
Hulle het teen Thembalethu van George vir die SWD-krieketraad se promosiekampioenskap op die REC-sportgronde op Oudtshoorn meegeding.
Dit was Riversdal-krieketklub (RKK) se eerste keer in 10 jaar na die herstigting in 2009 dat hulle vir die finaal gekwalifiseer het.
Thembalethu het die baie belangrike loting gewen en besluit om eerste te boul. Swak dissipliene deur die top-orde kolwers van RKK het hulle vroeg onder druk geplaas. Met hul telling op 49 was vier paaltjies reeds plat. ’n Goeie 40-lopie venootskap tussen Byron Esau en Bart Nel het dinge gou beter laat lyk, maar hierna kon die middelorde geen weerstand bied nie en RKK was met hul telling op 124 na 31.3 beurte almal terug in die kleedkamer.
Hul beste kolwers was Bart Nel met 23 vanaf 17 balle (1x4, 2x6), Mervin Prins en Marchello Wessels albei met 17 lopies (2x4). Esau met 14 en Jason van Rensburg met 12 kon dubbelsyfers aanteken.
Vir Thembalethu het Anoxolo Khitshini met 4/20 na 7.3 beurte, Feni Kamvalethu met 3/26 na ses beurte en Mesuli Vuba met 2/26 na vyf beurte die beste met die bal gevaar. Hulle moes 125 lopies in hul toegelate 50 beurte aanteken en was gemaklik met hul telling op 69 vir een.
RKK het vinnig toegeslaan en hulle gou onder druk gehad met hul telling op 79/5.
Thembalethu se middelorde het egter vasgeskop en het 125 in 29.4 beurte afgeslaan. Hulle wen die wedstryd met vyf paaltjies. Hul beste kolwers was Lastword Tapfumaneyi met 30 vanaf 39 balle (4x4), Mesuli Vuba met 20 vanaf 47 balle (2x4) en is goed bygestaan deur Lukhanyo Makula 17 en Kamvalethu 16.
Die ekstras het ook 25 lopies bygedra, wat aangedui het dat RKK gesukkel het met die ander soort bal wat slegs in die finaal gebruik is. RKK eindig die liga in die tweede plek uit 22 spanne, waarop die bestuur en spelers net trots kan wees.
Hulle bedank elke borg vir hulle borgskap en ondersteuning.
RKK speel op Saterdag 23 Maart ’n vriendskaplike wedstryd teen Seacrest-krieketklub van Mitchell’s Plain op die Riverville in Kaapstad.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'