HEIDELBERG NUUS - Riversdal-krieketklub het Saterdag 2 Maart met 'n goed berekende vertoning Heidelberg United tydens hul halfeindronde met 43 lopies verslaan.
Met hierdie oorwinning dring hulle na die finale ronde van die SWDK Promosieliga deur wat op Saterdag 9 Maart teen Thembalethu United op Oudtshoorn gespeel word.
Laasgenoemde het hul halfeindstryd teen Pirates United van Knysna gewen.
United, wat voor die wedstryd na hul drie oorwinnings oor Riversdal vroeër in die seisoen as gunstelinge beskou is, is ontnugter deur 'n meer vasberade Riversdal-span wat honger was vir 'n sege.
Die besluit van die tuisspan om hul besoekers in te stuur om te gaan kolf het aan die begin goed gelyk toe hulle Riversdal op 69/6 na net 17 beurte gehad het, maar 'n bestendige vennootskap van 69 om die sewende paaltjie tussen Evan Prins, aanvangskolwer, met 58 vanaf 109 balle (8x4, 1x6) en Bart Nel met 32 vanaf 34 balle (4x4, 1x6) ingesluit het, het grootliks bygedra dat hulle 142 lopies, almal uit na 34,3 beurte kon opstapel. Slegs Marchelle Wessels en Mervin Prins, albei met 10 lopies, wat onderskeidelik 1 en 2 viere ingesluit het, kon dubbelsyfers behaal.
Vir United het Elrick Pretorius met 2/27 met 1 leeg na 8 beurte, en Jaylin Opperman met 2/11 na 3 beurte die beste met die bal gevaar. Danielo du Preez met sy 1/14 met 2 leeg na 6,3 beurte, Jacques Thyse met 1/9 met 1 leeg na 5 beurte, en Wesley Bunding met 1/31 na 4 beurte het ook met die bal hul deel bygedra. Goeie veldwerk het bygedra dat drie kolwers uitgehardloop kon word.
United moes 143 lopies in hul toegelate 50 beurte aanteken, maar was na 20,5 beurte met 'n skamele 99 lopies weer terug in die kleedkamer. Net Pretorius, met 28 lopies vanaf 29 balle (3x4, 2x6), en Thyse met 22 lopies vanaf 23 balle (2x4, 1x6) kon enige weerstand teen die venynige boulwerk van Riversdal se veteraanboulers bied. Die tuisspan se vier top-orde kolwers het weereens lelik gefaal en was na 6,2 beurte met 36 lopies op die telbord terug in die kleedkamer.
Vier kolwers, waaronder Andrew Pieters, die aanvangskolwer, asook Garth Pieterse is vir 'n nulletjie uitgeboender.
Riversdal het net drie boulers ingespan om die sege vir hulle te bewerkstellig. Marvin Kortjé, met sy 5/46 na 10 beurte, het die beste met die bal gevaar. Hy is goed deur Jason van Rensburg met 3/26 na 7 beurte en Donny Pietersen met 2/18 na 3,5 beurte bygestaan. Kortjé is as die speler van die wedstryd aangewys.
Die groep spelers van Riversdal-krieketklub, bestuurslede, afrigter en ondersteuners, is in 'n seëvierende luim na hul skitteroorwinning oor Heidelberg United. Tweede van regs is Marvin Kortjé wat as speler van die wedstryd aangewys is. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'