KRIEKET NUUS - Hoërskool Outeniqua (Kwaggas) loop breë bors rond, nadat sy krieketspanne uitsonderlik presteer het. Die skool se o.15-spanne en die o.19-spanne het koning gekraai in die skole Promosieliga en die Superliga.
Die o.15A en die o.19 A-spanne het die Superliga gewen en het elkeen 'n trofee ontvang. Dit is Dinsdag deur Francois Visagie van Eden-skolekrieket oorhandig. Die o.15B en die o.19 B-spanne het die Promosieliga gewen.
Visagie het namens SWD-krieket die spelers en beamptes gelukgewens. Christo Vorster, skoolhoof was ook teenwoordig en was duidelik trots op die skool se spelers. Hy het gesê sonder 'n winterprogram sou die sukses nie moontlik gewees het nie.
Mark Andrianatos, hoof van krieket by die skool, het gesê die skool se krieketspanne het 'n baie goeie seisoen gehad. Die seisoen het reeds verlede jaar in September begin.
Al die skole in die streek speel in die verskillende ligas. Dit gebeur nie sommer dat 'n skool se spanne al die onderskeie ligas wen nie. "Ons is baie trots. Almal het baie hard gewerk."
In die Promosieliga neem tussen 12 skole deel en aan die Superliga ook 12 skole.
Volgens hom het die spelers reeds verlede jaar 'n winterprogram gehad ter voorbereiding van die seisoen.
Die o.19 A-span het ook 'n toer Kaap toe onderneem.
Twee van die spelers in o.19 A-span het reeds vir die Garden Route Badgers se o.19-span en die Garden Route Badgers se akademie span gespeel.
Visagie het gesê SWD-krieket is dankbaar vir die skool se bydrae tot krieket. "Ons is ook dankbaar vir die unie se bydrae tot krieketontwikkeling."
Francois Visagie van Eden Skole krieket oorhandig die trofee aan die O.19A span.
Francois Visagie van Eden-skolekrieket oorhandig die trofee wat die o.15A-span gewen het.
Die O.19 B span. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'