Update
RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike krieketklub het Saterdag 2 Desember hul stem duidelik laat hoor vir misdaad teen vroue en kinders.
Die span het teen Mayflower van Groot-Brakrivier te staan gekom, maar voor die wedstryd het die voorsitter, Jason van Rensburg 'n kort boodskap met die oog op 16 dae van aktivisme vir misdaad teen vroue en kinders gebring.
"Ons is die bouers van ons gemeenskap en daarom mag ons nie stilbly as enige vrou of kind mishandel word nie.
"Ongeag of dit fisiese, verbale of emosionele mishandeling is, mens is so geneig om te dink dat fisiese mishandeling die ergste is.
"Die waarheid is egter so dat 'n blou kol binne drie weke heel, maar daardie lelike en afbrekende woorde bly soms jare.
"Kom ons let op oor hoe ons met ons ouers, vrouens en kinders praat en handel," het hy benadruk.
Wedstrydverslag
Riversdal het die belangrike tuiswedstryd naelskraap met een paaltjie teen Mayflower gewen.
Die besoekers, wat die vorige seisoen in die eindronde van die SWD Promosieliga gespeel het, het die loot gewen en besluit om eerste te kolf.
Hulle teken 176 lopies in 32.3 boulbeurte aan. Vir Mayflower was dit slegs Anville van Wyk met 'n warrelwindbeurt met 61 lopies van slegs 45 balle en Ashwin Meyer (27 van 35 balle) wat noemenswaardige bydraes gemaak het.
Van Rensburg was Riversdal se beste bouler met drie paaltjies in agt beurte vir slegs 23 lopies.
Agter, van links is Justin van Rensburg, Pieter April, Donovan Pietersen, Gavin Kortjé, Gideon Arendse, Granwin Scholtz (onderkaptein) en Evan Prins. Voor: Byron Esau (kaptein), Elviezel Fielies, Jason van Rensburg (voorsitter), Mervin Prins en Marvin Kortjé.
Hy is goed bygestaan deur Granwin Scholtz (7 beurte, 2 paaltjies vir 39 lopies) en Marvin Kortjé (9 beurte, 2 paaltjies vir 51 lopies).
Die tuisspan se openingskolwers, Evan Prins (40 van 47 balle) en Gavin Kortjé (17 van 44 balle) het 'n stewige grondslag gelê met 'n vennootskap van 67 lopies om die eerste paaltjie.
Die middelorde van Riversdal kon nie kapitaliseer op die goeie grondslag wat gelê is nie en dit wou voorkom of Mayflower gaan terugveg om die wedstryde wen na drie omstrede been-voor-paaltjiebeslissings deur die skeidsregter.
Marvin Korté (47 van 27 balle) en Van Rensburg (28 van 51 balle) het egter ander planne gehad en het seker gemaak dat Riversdal die wedstryd wen met 'n vennootskap van 61 lopies van 40 balle.
Riversdal speel hul volgende ligawedstryd op 9 Desember teen Melkhoutfontein weg.
Lees 'n vorige artikel: Respek begin by jouself
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'