RIVERSDAL NUUS - Die Ampie Moses ses-’n-kant KANSA-krieketfees is nie ál groot krieketgeleentheid in Hessequa nie.
Volgens rdl. Chris Taute is die inligting dat die Ampie Moses Ses-’n-kant KANSA-krieketfees slegs in hul tweede bestaansjaar en nie 15 jaar soos verlede week in Suid-Kaap Forum berig is nie.
Moses was wel 15 jaar by krieket in die streek betrokke.
“Die ander toernooi is die Hessequa Six-a-Side wat al sedert 1996 jaarliks aangebied word,” sê Taute, voorsitter van die Good to Share Leadership Foundation wat die toernooi bestuur. Cynrol Saayman is die organiseerder.
“Hierdie toernooi is geskep om vir Werner Esau, ’n jong parapleeg uit die omgewing wat spesiale mediese toerusting nodig gehad het, geld in te samel. Dit is ook na hom vernoem en eers na sy afsterwe herdoop.”
Dit is eers uit die burgemeester se kantoor bestuur, later deur die Ha!Qua Youth Program en tans deur die Good to Share Leadership Foundation, wat soos die Ha!Qua ’n organisasie sonder ’n winsoogmerk is.
Met die ondersteuning van vrywilligers word geld ter ondersteuning van verskeie opvoedkundige instellings ingesamel. In 2019 het Molenrivier Primêre skool en die Bollie Konyn-, Zebra Kiddies- en Feetjieland Kleuterskole geld ontvang wat gebruik is om behoeftige leerders se skoolfooie te betaal.
Inskrywings vir die Hessequa Six-a-Side open na afloop van die huidige toernooi en sluit op 15 Januarie 2020. Altesaam 46 spanne, wat 10 vrouespanne insluit, gaan van 1 tot 29 Februarie 2020 daaraan deelneem.
Die hoofborge van hierdie toernooi is André van Wyk van Riversdal SuperSpar, Riversdal KFC en Hessequa-munisipaliteit.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'