Update
HESSEQUA NUUS - Mayflower van Groot-Brakrivier-krieketklub het Saterdag, 15 Januarie in 'n wegwedstryd vir die tweede week agtereenvolgens verlep toe Heidelberg United hulle met vyf lopies gewen het.
Dit is United se eerste sege van die seisoen in die SWDK Six Gun Grill Promosie A-liga.
Die tuisspan se kaptein, Jaques Thyse het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Aanvanklik het dit nie na 'n goeie besluit gelyk toe die besoekers hulle in die moeilikheid op 3/13 na 6.1 beurte gehad het nie.
Die tuisspan het egter vasgeskop en 'n skaflike totaal van 121, almal uit na 38.3 opgestapel.
Thyse, wat 'n dyspier beseer het tydens sy kolfbeurt van 44 lopies vanaf 74 balle (2x4, 1x6) het die beste met die kolf vir die tuisspan gevaar. Net Jacquen Meyer met 13 lopies vanaf 39 balle (1x4) en Elrick Pretorius met 11 lopies vanaf 11 balle (1x4) kon ook dubbelsyfers behaal.
Vir Mayflower het hul "Bangladeshi-invoerproduk", Roopesh Raveendran wat 4/17 met 1 leeg na 8.3 beurte en wat 'n driekuns ingesluit het, met die bal uitgeblink.
Hy is goed deur die veteraan, Clinton Pietersen met 2/19 met 1 leeg na 8 beurte, Ashwin Meyer met 2/13 na 4 beurte, Graham Samuels met 2/24 na 7 beurte en Rhyno Prins (kaptein) met 1/17 na 6 beurte bygestaan.
Die besoekers wat die redelike haalbare teiken van 122 lopies in hul toegelate 50 beurte moes aanteken, is na 29.1 beurte met hul totaal op 116 almal terug in die kleedkamer. Net Pietersen met 58 lopies vanaf 59 balle (11x4) en Riaan Prins met 12 lopies kon weerstand teen die tuisspan se boulaanval bied om dubbelsyfers te behaal.
Vir United het Pretorius met 4/34 met 1 leeg na 9 beurte die beste met die bal gevaar. Hy is goed deur Jaylin Opperman met 3/21 met 2 leeg na 7 beurte en Carlo Williams met 2/19 met 1 leeg na 6.1 beurte bygestaan.
Prins het 'n bestendige beurt gespeel en 50 lopies vanaf 68 balle (7x4) aangeteken, wat hulle in staat gestel het om die skaflike totaal van 138 almal uit in 40.2 beurte op te stapel. Hy is goed deur Byron Esau met 24 vanaf 31 balle (3x4), Granwin Scholtz met 15 vanaf 75 balle en Aden Koeries met 10 lopies vanaf 11 balle (2x4) bygestaan.
United speel Saterdag, 22 Januarie weg teen Thembalethu.
Die ander twee Promosie A-liga wedstryde is as volg (tuisspanne eerste): Mayflower teen Pirates United en Pacaltsdorp United teen New Dawn Park. Riversdal en Western Hope het 'n loslootjie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'