Gallery
HESSEQUA NUUS - 'n Puik veelsydige vertoning deur sy kaptein, Stian Pfaff, en 'n stewige vennootskap om die tweede paaltjie saam met Dehan Gildenhuys was helaas nie genoeg vir Laerskool Volschenk om sy kragmeting teen Robertson Saterdag by Hoërskool Langenhoven te wen nie.
Die besoekers kon danksy 'n sterker kolfvertoning die tweestryd, wat 'n mooi vertoonvenster was vir skolekrieket op dié vlak, met ses paaltjies wen.
Pfaff het 'n onoorwonne 86 lopies van net 72 balle behaal en Robertson se boulers behoorlik gekasty.
Hy is goed ondersteun deur Gildenhuys, wat ook onoorwonne was op 34 lopies wat hy van 49 balle aangeteken het. Hul vennootskap van net oor die 120 lopies het Vollies tot 'n respektabele telling van 145/1 geneem.
FOTOGALERY: Skolekrieket op sy beste
Maar Robertson het 'n lang kolflys gehad met die meeste van sy middelkolwers wat lopies kon kry om die wenteiken met nog ses paaltjies staande verby te steek.
Vir Vollies het Pfaff (2/32) met die bal uitgeblink met goeie ondersteuning deur Lian de Jager (1/19) en Diëgo van Rensburg (1/28).
Stian Pfaf en Dehan Gildenhuys word deur hul spanmaats gelukgewens met hul onoorwonne vennootskap van meer as 120 lopies.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'