Update
HESSEQUA KRIEKETNUUS - Heidelberg United-krieketklub het Saterdag, 4 Desember hul rieme styfgeloop toe hulle deur hul aartsvyand, Riversdal-krieketklub in hul eerste SWDK Six Gun Grill-ligawedstryd behoorlik afgeransel is.
Die besoekers het die wedstryd met sewe paaltjies gewen nadat die tuisspan die loot gewen en beskluit het om te kolf.
United, wat nie voltallig vir die wedstryd was nie, kan net hulself blameer dat hulle so swak gevaar het om net 43 lopies vir die verlies van hul agt paaltjies in 13.4 beurte op te stapel. Dit sal vorentoe beter met hulle kan gaan as hulle besef dat daar 'n groot verskil is tussen 50 boulbeurte en die T20, asook ses aan 'n kant wedstryde.
Vir die tuisspan kon slegs Shirgené Swartbooi (kaptein) dubbelsyfers met 13 lopies (2x4) aanteken. Byron Esau met sy 5/23 na 6.4 beurte het met die bal vir Riversdal uitgeblink. Hy is goed deur Cheslan Cloete met 3/11 na 6 beurte bygestaan. Goeie veldwerk deur die besoekers en veral Esau, wat met 'n briljante vangskoot van Swartbooi ontslae geraak het.
Riversdal wat die karige teiken van 44 in hul toegelate 50 beurte moes aanteken, was effens skrik op die lyf gejaag toe Danielo du Preez 2/4 na vyf balle platgetrek het. Marcello Wessels met 14 lopies (1x4) en Esau met 17 lopies (3x4) vanaf net 10 balle het die wa deur die drif getrek om met 47/3 na agt beurte die wenteiken te behaal.
Vir United het Du Preez met 2/15 na 4 beurte en Enzo Lodewyk met 1/16 na drie beurte die paaltjies ingeryg. Esau is ook as die speler van die wedstryd aangewys.
Met die sege het die besoekers weer die Leonard Hurling-wisseltrofee suksesvol verdedig wat die afgelope jaar in hul vertoonkas gepronk het.
Riversdal speel Saterdag, 11 Desember tuis teen Pirates van Knysna. Heidelberg het 'n loslootjie en speel eers weer op 8 Januarie 2022 hul tweede wedstryd weg teen Pirates.
Voor die aanvang van die wedstryd het die twee spanne hul ondersteuning aan die 16 dae van aktivisme teen geweld van vroue en kinders toegegee. 'n Minuut van stilte is ook gehandhaaf vir diegene wat deur die euwel geraak word.
Heidelberg United en Riversdal krieketklubs het hul ondersteuning aan die 16 Dae van aktivisme teen geweld van vroue en kinders toegesê. Hier verkeer hulle saam in goeie luim na die wedstryd.
Vorige artikel: United val vas
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'