STILBAAI NUUS - Ten spyte van die gure weer kon Laerskool Bertie Barnard daarin slaag om die afgelope naweek sy jaarlikse vriendskaplike kriekettoernooi aan te bied.
Elke deelnemende span kon darem op Saterdag minstens vier wedstryde elk speel. Die wedstryde is op die dorpsveld sowel as by Melkhoutfontein-sportterrein gespeel en dit het fyn beplanning gekos om almal op die regte tyd op die regte plek te hê.
Die spanne wat deelgeneem het was: Laerskool Bertie Barnard van Stilbaai, Laerskool Bredasdorp, Worcester Primêr, Laerskool De Hoop van Somerset-Wes, Laerskool De Kuilen van Kuilsrivier en Laerskool Ladybrand, wat meer as 'n duisend kilometer gery het om in Stilbaai te wees.
Nicky Deetlefs, skoolhoof van Laerskool Bertie Barnard, sê die jaarlikse toernooi gaan nie net oor die blywende positiewe bydrae tot die ontwikkeling en vorming van jong krieketspelers nie, maar ook oor die smee van lewenslange vriendskappe.
Volgens Johan Dreyer, skoolhoof, afrigter en busbestuurder van Laerskool Ladybrand, is dit nou die derde keer wat hulle die toernooi bywoon en hulle mis dit vir niks in die wêreld nie.
Alhoewel die wedstryde vriendskaplik was, was die mededinging uitstaande en dit het ook spanne die geleentheid gegee om deel te neem teen ander spanne teen wie jy nie gewoonlik speel nie.
Vir Waldo Lategan, hulpafrigter van Laerskool De Kuilen, was dit soos om by die huis te wees.
Hierdie boorling van Oudtshoorn het SWD op laerskool, hoërskool en senior vlak verteenwoordig in krieket en is ook welbekend met die Stilbaai-raakrugbytoernooi (touchies).
Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'