Gallery Update
HESSEQUA KRIEKETNUUS - Die Thomas Pretorius Paasnaweek Krieketfees het nie net opwindende krieket opgelewer nie, maar ook gesorg dat drie kleuterskole finansiëel daarby baat vind.
Dié ses-aan-'n-kant-toernooi wat vir die derde agtereenvolgende jaar deur die Wynland Vriendekring, onder leiding van Vennito van Niekerk van stapel gestuur is, het op 3 en 4 April op die Young Stars Ovaal op Heidelberg plaasgevind.
Volgens Van Niekerk het 12 spanne ingeskryf en deelgeneem, maar Slangrivier het net die eerste dag gespeel. Dit het die wedstrydprogram op die tweede dag ietwat ontwrig.
Fotogalery: Thomas Pretorius Paasnaweek Krieketfees
Daar is in drie afdelings meegeding, naamlik die bowl-, plaat- en cup-afdelings. In die bowl-eindronde het die Wynland Mongolian-span die loot gewen en vir Young Guns United ingestuur om te kolf. Laasgenoemde kon net 50 lopies vir die verlies van vier paaltjies in hul toegelate vyf beurte aanteken. Mongolians het die teiken maklik behaal met 'n telling van 53/3 na drie beurte om die trofee op te raap.
Tweede eindronde
In die tweede eindronde het Wynland Veterane teen Turtles kragte gemeet na eersgenoemde die loot gewen en die Turtles laat kolf het. Turtles het 'n massiewe 93/3 in hul vyf beurte aangeteken. Die Veterane kon net 65/3 na hul vyf beurte behaal en die wedstryd met 28 lopies verloor.
Die eindronde tussen Kielie United 1 en 2 het tot op die laaste bal hul ondersteuners laat naels kou. Kielie United 1 het eerste gaan kolf en 54/4 na hul toegelate vyf beurte opgestapel.
Die tweede span het seker hul lippe afgelek omdat hulle 'n betreklik lae teiken moes aanteken, maar helaas, die eerste span het met uitstekende boul- en veldwerk die telling tot 50/2 in die vyf beurte beperk om die wedstryd naelskraap met vier lopies te wen.
Na afloop van die toernooi is 'n Dream Team van die spanne gekies wat nie die cup-eindronde gehaal het nie. Dié span het teen die Dream Team van die Riversdal ses-aan-'n-kant-toernooi op Sondag, 11 April meegeding.
Die twee finaliste van die cup-afdelings van Heidelberg en Riversdal het mekaar ook die stryd aangesê.
Die eindronde op Riverville-stadion was tussen die naaswenners in die cup-afdeling: Stage Boys en Kielie United 2, terwyl die Riversdal-wenners, Unknown Heavies en Kielie United 1 mekaar in die groot eindronde gepak het (volledige berig hiernaas).
Die groep van Kielie United 1 en 2 het mekaar die stryd aangesê tydens die cup-eindronde. Hul spanbestuurders staan by.
Vorige artikel: Krieketnaweek help ook kleuterskole
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'