STILBAAI SPORTNUUS - Die Stilbaai Cross-driekamp het Saterdag 8 April vir groot opwinding gesorg toe 93 atlete as individue en ook aflosspanne deelgeneem het.
Almal het Saterdagoggend agtuur by Palinggat in die Goukourivier gespring en 1 200 m tot by Lappiesbaai-strand geswem.
Die sterk uitgaande stroom het hulle vinnig tot by Lappiesbaai gevat, maar daar moes hulle kophou om te keer dat die stroom hulle nie see toe vat nie. Vandaar moes hulle sowat een kilometer draf tot by hulle fietse.
Die 30 km-roete met bergfietse het ook die baie steil opdraande na Pauline Bohnen-natuurreservaat ingesluit wat hulle tot die uiterste beproef het. Sommige het selfs die fietse daar uitgestoot, terwyl die meer ervare fietsryers dit soos 'n Sondagmiddaguitstappie laat lyk het.
Om dit alles af te sluit het die atlete toe nege kilometer strandlangs gehardloop tot by Preekstoel en terug om die wenners te bepaal.
Die aflosspanne het drie deelnemers per span gehad: een vir die swem, een vir die fietsry en dan een vir die hardloop.
Die 41-jarige Henré Lategan het uiteindelik as wenner uit die stryd getree in 'n tyd van 1 uur 55 minute en 53 sekondes. Die vroueafdeling is gewen deur Chanté van der Merwe in 'n tyd van 2 uur 9 minute en 9 sekondes. Sy was dan ook algeheel in die agtste posisie.
Henré was dus ook baas in die mansveterane en Teresa Bester het die afdeling vir vroueveterane gewen in 'n tyd van 2 uur 15 minute en 24 sekondes.
Hierdie uitmergelende byeenkoms het voorwaar liggaam en gees getoets, maar almal is dit eens dat hulle volgende jaar terug is vir die volgende een. Ook vir die talle toeskouers was dit 'n belewenis en met die weer wat mooi saamgespeel het was dit 'n oggend om te onthou.
Daar is ander maniere ook.
Hierdie junior wys die hardebaarde hoe.
Daai opdraande was sommer niks.
Chanté van der Merwe op pad wenstreep toe.
Saterdagoggend 08:00 en die deelnemers maak gereed vir die swemmery.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’