ATLETIEK NUUS - Twee oud-Kwaggas, Miré Reinstorf en Jo-Ane van Dyk, maak SWD-atletiek trots. Reinstorf en Van Dyk het beide goue medaljes by die Senior Afrika-atletiekkampioenskappe wat van 8 tot 12 Junie in Mauritius gehou is gewen.
Reinstorf het ander deelnemers in die paalspring uitgestof met 'n sprong van 3,80 m en Van Dyk het in die spiesgooi gewen met 'n afstand van 60,65 m.
Twee ander Suid-Afrikaners, Mckyla van der Westhuizen en Jana van Schalkwyk, het onderskeidelik silwer- en bronsmedaljes in die afdeling gewen.
Reinstorf het verlede jaar tydens die o.20-wêreldkampioenskappe in Nairobi, Kenia die paalspring vir vroue gewen.
Van Dyk het verlede jaar onder die Suid-Afrikaanse vlag aan die Olimpiese Spele in Tokio, Japan deelgeneem.
Shireen Noble, visepresident van Atletiek Suid-Afrika en president van Atletiek SWD, het Dinsdag gesê SWD is trots op sy oudatlete.
"Hulle dien as inspirasie vir die ander jonger atlete in ons streek. Dis duidelik dat die fondamente vir hul sukses in atletiek in die SWD gelê is."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'