STILBAAI NUUS - Die langnaweek se heerlike reën het Saterdagoggend, 8 Augustus, net lank genoeg weggebly om Stilbaaiers en besoekers die geleentheid te gee om aan die 238ste Stilbaai-Wes parkrun deel te neem.
Van die 133 deelnemers het sowat 20 die skilderagtige, maar uitdagende Stilbaai-roete vir die eerste keer aangedurf. Die nuwelinge was dit eens dat die roete besonder mooi is, hoewel dit deelnemers behoorlik op hul tone hou.
Die strandgedeelte bied 'n goeie toets van uithouvermoë, waarna die roete deur die bosse kronkel met skerp en soms onverwagte draaie wat konsentrasie en ratsheid vereis.
Hanlo Barkhuizen, 'n besoeker wat die Stilbaai-parkrun vir die eerste keer aangepak het, het die wedloop in 'n uitstekende tyd van 19:14 gewen. Dit was Barkhuizen se 13de parkrun, en al 13 dié wedlope het in die Tuinroete plaasgevind.
Oudergewoonte was Katja Nothnagel van Stilbaai die eerste vrou oor die wenstreep. Sy het die afstand in 23:33 voltooi, wat haar ook 'n baie goeie vyfde plek algeheel besorg het.
Die Stilbaai-Wes parkrun vind elke Saterdag om 08:00 plaas. Die wegspringpunt is by die Stilbaai-Wes-strand se parkeerterrein bokant die visvywers.