STILBAAI NUUS - Die immergewilde Hessequa Erfenisfees en Trail Run is vir die vyfde agtereenvolgende jaar deur Stilbaai-toerisme aangebied om ons ryk erfenis te vier, asook as 'n fondsinsamelingspoging.
Die dag is afgeskop met die 16km Trail Run vanaf die getypoel in Jongensfontein tot by Palinggat-museum, waar die atlete by die feestelikhede aangesluit het. Daar was ook 'n mini Trail Run oor 5km vanaf die parkeerterrein by Skulpiesbaai tot by Palinggat.
Leon Adams van Riversdal was die eerste man oor die eindstreep in 'n baie goeie tyd van 1 uur 16 minute en 37 sekondes. Ann-Mareé Mostert van Worcester was die eerste vrou met 'n pragtyd van 1 uur 26 minute en 37 sekondes.
In die 5km wedloop was die 14-jarige Rainart Behrens eerste met 'n tyd van 22 minute en 39 sekondes en Addison Gillespie was die eerste meisie met 'n tyd van 27 minute en 12 sekondes.
Leon Adams van Riversdal was die eerste man oor die 16km-eindstreep.
Daar was altesame 209 deelnemers, waarvan 96 by die 16km en 113 oor die 5km roete.
Volgens die organiseerders, Adolf en Elza Botes kom mense van heinde en ver om deel te neem en baie van hulle kom jaar na jaar terug om hierdie skilderagtige roete aan te durf.
Uit George was daar agt vroue wat hulself die George Running Buddies noem en daar was selfs twee vroue wat die roete met hulle honde aangedurf het.
By Palinggat was daar talle stalletjies met heerlike eetgoed vir elke smaak en selfs 'n lam op die spit vir die hongeriges.
Wie het gesê honde mag nie deelneem nie?
Radio Fynbos het vanaf die terrein uitgesaai. Besoekers kon deur die museum stap en het geleentheid gehad om te kyk hoe die palings gevoer word.
Die dag is afgesluit met die bekendmaking en prysoorhandiging van die tekenkompetisie-wenners vir laerskool- en voorskool kinders wat die toerismeburo as fondsinsameling gehou het.
Neil Meyer was die wenner in die graad 4 tot 7 kategorie, Charles Rabie het gewen in die graad 1 tot 3 kategorie en Klara van Wyk was die wenner in die voorskool kategorie.
Klein en groot, oud en jonk het die dag terdeë geniet en sien klaar uit na volgende jaar se fees.
Die agt vroue wat hulself die George Running Buddies noem.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'