STILBAAI NUUS - Die Harcourts Hessequa Heritage Festival wat vir die tweede agtereenvolgende jaar in Stilbaai op Saterdag 22 September plaasvind, bestaan uit twee draf- of staproetes met die Brood-en-beskuitfees wat by die eindpunt by die Stilbaai-toerismeburo aangebied word.
Die fees open amptelik om 09:00.
Drawwers kan Vrydag 21 September vanaf 12:00 by die toerismeburo vir die byeenkomste inskryf terwyl hulle Saterdagoggend vanaf 07:00 by Stilbaai-gemeenskapsaal registreer en inskryf. Omdat daar uiters beperkte parkering by die toerismeburo beskikbaar is, word deelnemers gemaan om nie daar te parkeer nie.
Die bussies vertrek Saterdagoggend van die gemeenskapsaal na die beginpunte in Jongensfontein vir die 16 km-kusroete na Stilbaai en na die Skulpiesbaai-parkeergebied vir die 5 km-roete.
Diegene wat die bussies mis, moet self reëlings tref om betyds by die wegspringpunte te kom.
Die 16 km-kusroete begin 09:00 en 'n waterpunt is by die 11 km-merk beskikbaar. Deelnemers word aangeraai om selfvoorsienend te wees. Die 5 km-roete begin om 09:15 en volg meestal bestaande sementpaadjies, behalwe vir die grondpaadjie wat almal deur die sprokiesagtige roete deur die Skulpiesbaai-natuurreservaat neem.
Inskrywingsfooie is R120 vir die 16 km en R50 vir die 5 km.
'n Gemerkte paadjie vanaf die toerismeburo sal deelnemers weer terug na die parkeergebied neem.
Feesgangers kan óók by die saal parkeer, aangesien die toegangsroete en parkering by die buro so beperk is en dit 'n kort stapafstand van die saal is.
Jy kan uitsien na heerlike kos soos vetkoek, pannekoek, stokbrood en gebak. Snuisterye sal by die Brood-en-beskuitfees te koop wees. Moenie bekommerd oor die kinders wees nie, want genoeg pret is vir hulle gereël.
Stilbaai se eie boereorkes sal tot die atmosfeer bydra. Die omgewing se beste bakster óf bakker kan groot pryse met die Eureka Mills-beskuitkompetisie wen. Kinders sal selfs kan leer wat hulle alles met dié meel, wat plaaslik by Heidelberg vervaardig word, kan maak.
Inligting is by www.mystilbaai.co.za of Hessequa Heritage Festival op Facebook beskikbaar. Vir inligting oor die beskuitkompetisie en die fees, skakel Johannie Vermeulen by 083 333 1810 en vir Elza Thiart-Botes by 082 458 8517 vir inligting oor die draf- en staproetes.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'