STILBAAI NUUS - Die dorpsveld in Stilbaai het Saterdag 1 Augustus gegons van opgewondenheid toe agt laerskole mekaar in vriendskaplike rugby- en netbalwedstryde aangedurf het tydens Laerskool Bertie Barnard se jaarlikse sportdag.
Skole van Eversdal in Kaapstad, die Koue Bokkeveld, Heidelberg, Van Reede in Oudtshoorn, Towerkop Primêr in Ladismith, Vorentoe van Groot Brakrivier, Melkhoutfontein Primêr en Laerskool Bertie Barnard het spanne van o. 7- tot o. 13-vlak ingeskryf. Laerskool Olifantsvallei het boonop hul o. 13-netbalspan al die pad van Citrusdal gebring om deel van die geleentheid te wees.
Die eerste wedstryde het reeds om 08:00 op 'n ysige wintersoggend afgeskop. Hoewel die koue aanvanklik gevoel is, het die geesdrif van spelers, afrigters en ondersteuners gou vir warmer atmosfeer gesorg. Langs die bane en velde het ouers hul spanne luidkeels aangemoedig, wat bygedra het tot die feestelike stemming.
Die sportdag is daarop gemik om vriendskapsbande tussen skole te bou en te versterk, terwyl sportmangees en wedersydse respek bevorder word. Daarom het die fokus nie op die eindtellings geval nie, maar op deelname, karakterbou en die geleentheid om teen nuwe teenstanders kragte te meet.
Hoewel elke span vasberade was om hul beste te lewer en met 'n oorwinning van die veld af te stap, was dit die gees van kameraadskap en die liefde vir sport wat uiteindelik die grootste wenner van die dag was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’