STILBAAI NUUS - Die jaarlikse OK Foods Laerskool Bertie Barnard Sportdag beloof om Saterdag 1 Augustus weer 'n hoogtepunt op die plaaslike sportkalender te wees wanneer nege skole op Stilbaai toesak vir 'n dag vol rugby en netbal.
Wedstryde begin reeds om 08:00 op die dorpsveld, waar spanne van o. 7 tot o. 13 mekaar die stryd sal aansê.
Olifantsvallei Primêr van Citrusdal stuur vanjaar 'n o. 13-netbalspan, terwyl die ander agt deelnemende skole in rugby en netbal sal meeding.
Skole reis van oraloor om deel te neem, met spanne wat vanaf die Koue Bokkeveld, Citrusdal, Ladismith, Eversdal in Kaapstad en Groot Brakrivier na Stilbaai kom om kragte te meet met Laerskool Bertie Barnard, Melkhoutfontein Primêr en Heidelberg.
Organiseerders sê die sportdag beloof 'n dag propvol opwindende wedstryde, goeie sportmangees en gesonde kompetisie te wees. Die gemeenskap word uitgenooi om die jong sportsterre te ondersteun en deel te wees van skolesport op sy beste.
Geen sportdag is volledig sonder iets lekker om te eet nie. Besoekers kan uitsien na 'n tradisionele snoepie, vars koffie en pannekoek, asook hamburgers, pizzawiele, doughnuts en 'n verskeidenheid ander lekkernye wat deur die dag beskikbaar sal wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’